VERMAAK NUUS - ’n Facebook-plasing het vir Graham Lottering van George die deur oopgemaak na ’n klein rol in ‘n nuwe plaaslike dramafilm, Break me to make me.
Lottering speel ’n voertuig-herwinningsagent wat in ’n toneel die hoofkarakter se voertuig kom terugneem. “Dis nie ’n hoofrol nie, maar ek sien dit as ’n groot voorreg om deel te wees van die produksie,” sê Lottering.
Die film, met Gillian Cupido as vervaardiger en Marshin Cupido as regisseur, is in Kaapstad geskiet.
Dit is gegrond op die Christelike skrywer, Tracey-Lynne Isaacs, se ware verhaal en memoir wat handel oor swaarkry, geloof, deursettingsvermoë en hoop.
Lottering sê hy het ’n plasing op Facebook raakgesien waar die rol geadverteer is.
“Ek het die skakel gevolg, aanlyn al die nodige inligting voltooi, en die volgende oggend is ek deur die produksiespan gekontak. Dit was ’n aangename verrassing.”
Die rolverdeling sluit Jolene Martin, Rushney Ferguson, Ilse Sitzer en Shaquille Esau in.
“Dit was baie leersaam. Ek het saam met talentvolle akteurs en ’n professionele span gewerk en elke oomblik waardeer.”
Die première is reeds in die Grand West in Kaapstad vertoon.
George Herald het voorheen berig oor sy droom om ’n loopbaan as akteur te vestig. Ná sy debuut in die realiteitsreeks, Die liefde is ’n snaakse ding, het hy in advertensies, ’n kortfilm en die televisiereeks, Kelders van Geheime, verskyn.
Lottering het geen formele drama-opleiding nie. Hy sê hy leer deur die werk self en deur ervare akteurs dop te hou.
“Elke nuwe geleentheid help my om verder as akteur te groei. My droom is groter rolle te vertolk,” sê hy.
Hy wou van jongs af toneelspeel, maar ná skool het hy gaan werk om sy ouers te ondersteun. Ná sy kroning as Mnr. Eden in 2020 het hy by ’n model- en talentagentskap aangesluit wat geleenthede vir hom oopgemaak het.
“Dis regtig vir my besonders om as iemand van George deel te wees van hierdie nuwe produksie en ek hoop dis net die begin van nog baie.”
Lees nog artikels hier:
Georgiet Graham Lottering bou aan loopbaan as akteur
Lag en liefde is pasmaats, sê Graham
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’