GEORGE NUUS - Een van onse eie mense maak sy debut in 'n Afrikaans-realiteitsreeks, Die liefde is 'n snaakse ding, wat môreaand om 20:00 vir die eerste keer op Via (DSTV kanaal 147) verskyn.
Graham Lottering (37) glimlag breed wanneer ons oor sy liefde vir die kameras en toneelspel gesels. Hierdie reeks het sy grense oorskry van dit wat hy gedink het binne sy bereik is.
Die produksie is vervaardig deur Pop 24 by die Media 24-gebou in Kaapstad, met Zandri Douglas as regisseur.
"Dit gaan eintlik alles oor komedie," verduidelik Graham.
"Tien mans en tien vroue tree op in die reeks. Hulle kyk almal na 'n komedie, en word fyn dopgehou vir dit waaroor hulle lag. Die idee is dat diegene wat dieselfde goed snaaks vind waarskynlik ander raakpunte sal hê. Ons kry almal 'n kans om mekaar te date, met die idee om 'n pasmaat te vind."
Graham het van die staanspoor af sy bedenkinge oor die saak gehad, want hy glo liefde is 'n keuse.
"Hoekom sal ek TV toe gaan vir liefde? Ek het dit vir hulle gesê ook," vertel hy.
"Ek het nie verwag om deur te dring na die laaste tien nie, maar dit het toe so gebeur. Toe reken ek, laat ek dit maar 'n kans gee."
Graham is deel van Gemini Model & Talentagentskap in Mosselbaai, waar hy aangesluit het na sy kroning as Mnr. Eden in 2020.
"Dit was ook heel toevallig, want ek en 'n vriend, Colin du Pisani, het eintlik 'n weddenskap aangegaan," sê Graham. Hy het besef hoe gek hy daaroor is om voor kameras op te tree, en het later ook opgetree as akteur in 'n advertensie vir 'n energiedrankie.
"Die realiteitsreeks is iets wat ek nooit sou dink om aan deel te neem nie, maar dit was nog altyd vir my 'n uitdaging om nuwe dinge te probeer," sê Graham.
Tydens die reeks het hy iemand spesiaal ontmoet, en 'n paar vriende gemaak. "Die konneksies is daar; dit is in jou eie hande wat jy daarvan maak," is sy kommentaar. Verder wil Graham niks uitlap nie.
Wat sy familie in George betref is Graham die volgende Denzil Washington. "Hulle is my grootste ondersteuners," sê Graham.
Diegene wat graag met hom wil skouers skuur kan gerus môreaand die eerste episode by Mujo's gaan kyk, waar die afskop van die reeks op 'n groot skerm te siene gaan wees.
Graham Lottering by die Tuinroetedam vir ’n fotosessie. Foto: Kathrine Heigan
Die televisie-reeks, Die liefde is 'n snaakse ding, begin môreaand, Vrydag 22 Augustus om 20:00 op Via (DSTV-kanaal 147).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’