VERMAAK NUUS - Georgiet Graham Lottering (38) is stadig maar seker besig om 'n pad oop te kap vir 'n loopbaan voor die kamera.
Dit het begin momentum kry ná sy debuut verlede jaar in die Afrikaanse realiteitsreeks, Die liefde is 'n snaakse ding.
Die reeks was sy eerste blootstelling aan die rolprentkamera en die senuwees het geknaag, maar hy het gou sy voete gevind en 'n liefde vir die kamera ontwikkel.
Sedertdien het hy in verskeie advertensies, 'n kortfilm en die televisiereeks Kelders van Geheime, wat op e.tv gebeeldsend word, verskyn.
'n Loopbaan in die rolprentwêreld is 'n droom wat hy reeds van jongs af wou nastreef, maar daar was nie altyd geleentheid daarvoor nie.
Ná skool het hy besluit om nie verder te studeer nie, maar eerder te begin werk om sy ouers te ondersteun. Hy het selfs 'n rugbykontrak van die Haaie van die hand gewys.
"Ek is nie spyt oor die rigting wat ek ingeslaan het nie, want ek kon my familie gelukkiger sien."
Hy besit vandag 'n koerierdiens saam met 'n vennoot en ook sy eie wassery. "Die dag toe ek vir my ma 'n huis laat bou het en die sleutel vir haar kon gee, was 'n ongelooflike gevoel. Ons het baie swaar grootgeword en in moeilike omstandighede gebly, maar dit was 'n leerskool wat my dankbaar maak vir elke geleentheid wat oor my pad kom."
Ná sy kroning as Mnr. Eden in 2020 het hy by die Gemini Model- en Talentagentskap in Mosselbaai aangesluit en deesdae werk hy ook saam met The Usual Suspects-agentskap in die Kaap.
Hy werk tans tussen George en Kaapstad en lê elke oudisie af wat sy agent vir hom reël. Graham was onlangs drie dae lank in George vir die verfilming van 'n Netflix-reeks, Tuiskoms, waarin hy 'n verskyning maak.
Graham Lottering saam met die aktrise Riana Alfreds van Kelders van Geheime.
"My agent kry vir my baie geleenthede vir oudisies en ek sê nie nee nie. Die skiet van 'n advertensie verg harde werk en jy is van baie vroeg tot laat op stel. Dis nie net altyd pret nie - daar gebeur baie agter die skerms. "Soms word 'n skoot male sonder tal oor gedoen, partykeer in snikhete omstandighede, maar ek kla nooit oor wat van my verwag word nie."
Hierdie ingesteldheid, saam met sy gawe om ander op stel op hul gemak te laat voel, maak dat hy raakgesien word. Wanneer hy in die Kaap werk, bly hy by sy broer, wat dit vir hom makliker maak om meer werk te aanvaar. "Om elke keer afskeid te neem van my seuntjie, Logan (3), bly egter moeilik. Ons is baie na aan mekaar. Hy aard na my en ons doen graag dinge saam. Hy raak baie opgewonde wanneer hy my op TV sien. Ek het nooit gedink ek sal op hierdie punt kom nie. Nou was ek al saam op stel met mense wat ek altyd net op TV gesien het."
Sy visier is hoog ingestel op die internasionale filmbedryf. "Ek het al vir 'n vriend gesê ek voel ek gaan eendag 'n toekenning kry as beste akteur op internasionale vlak. Ek kan nie laer mik nie. Hoe hoër 'n mens se mikpunt, hoe beter is jou kanse om groter hoogtes te bereik."
Intussen werk hy hard en gryp elke geleentheid wat oor sy pad kom.
Saam met Jacques da Silva.
Uit 'n toneel in 'Kelders van geheime'.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’