GEORGE VERMAAKNUUS - Die bekende akteur, Zane Meas, van 7de Laan-faam, kuier binnekort in George vir 'n sangoptrede met Billy Paulsen en Jo Booysen in die vertoning One night only, Jo and Friends.
Die drie sangers word begelei deur die musiekgroep, Prerogatives. Die optrede vind op Dinsdag 1 Oktober om 19:00 by die George-stadsaal plaas.
Paulsen geniet internasionale bekendheid as gospelsanger en Booysen, die pastoor van die Mercy Life Outreach Ministries van Rosemoor, het vir twintig jaar saam met die plaaslike musiekgroep, Youth Crusaders opgetree. Dié musiekgroep gaan ook tydens die vertoning optree.
In gesprek met Booysen het hy grappenderwys gesê hulle is deeglik bewus daarvan dat Meas se karakter in die televisiesepie oorlede is, maar hulle het hom "teruggebring" vir 'n kuier in George. Booysen en Paulsen deel ook ander belangstellings: "Ek is sy gholfafrigter," het Booysen gesê.
Ander musikante sluit in 'n saksofoonspeler, Dillan "D" en sanger, pastoor Ken Larken. Een van die aanbieders van die aand is die radio-omroeper Leveinia Botha, wat EDENfm se ontbytprogram op Saterdae aanbied.
"Gaste kan 'n hele spektrum van gospel verwag, waaronder heelwat van ons eie liedjies sowel as ou bekendes. Ons verwag dat die gehoor heerlik saam gaan sing," het Booysen gesê. "Ons hoop om mense van oor die streek te sien."
Vir meer inligting of kaartjies kontak Booysen by 072 462 5714 of Ezra by 081 564 5249. Kaartjies kos R100 per persoon en word ook by die deur verkoop.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'