GEORGE NUUS - Die alombekende George-mannekoor onder leiding van Chrisna du Preez het, in samewerking met die Suid-Kaap Musiekakademie ‘n opwindende nuwe stemontwikkelingsbeurs vir hoërskoolseuns en jong volwasse koorsangers bekendgestel.
Die beurs het ten doel om jong tenore, baritonne en basse van alle gemeenskappe in die George-omgewing die geleentheid te gee om ervaring in mannekoorsang op te doen.
Dit sal hulle ook in staat stel om hul stemme te ontwikkel, aan ‘n nasionale mannekoorfees, wat in George aangebied word, deel te neem, asook om deur middel van hul deelname, prestasietoekennings en kultuurerekleure by hul skole te verwerf.
Die mannekoor bestaan reeds vanaf 1982 en is een van Suid-Afrika se bekendste mannekore. Hul besondere koorklank, wat gehore se hartsnare met fyn manstemharmonieë aanroer, het sy ontstaan aan die Walliese mannekoortradisie van die vorige 200 jaar te danke.
Dié ontwikkelingsprogram beoog om ‘n nuwe generasie koorsangers aan hierdie genre bloot te stel, oor te dra, en om geleenthede vir alle gemeenskappe te skep om aan dié besondere kunsvorm deel te vorm.
Hoërskoolseuns in die George-streek wat vorige skoolkoorervaring het, word genooi om vir ‘n jaar lange beurs by southcapemusic@gmail.com aansoek te doen.
Hulle moet ‘n oudisie aflê, ‘n aansoekvorm voltooi en bereid wees om die programwerksessies en weeklikse repetisies by te woon.
Hul vervoerkoste en kleredrag sal deur hul beurs gedek word. Ná ‘n jaar van deelname sal hulle tydens ‘n program-voltooiingsplegtigheid prestasietoekennings ontvang wat hulle vir kultuur-en erekleure by hul skole of voornemende universiteitskore kan indien.
Die tweede kategorie koorsangers wat by die program sal baat vind, is volwasse mans wat in skool- en universiteitskore gesing het, of wat vir sang lief is, en hul talent op ‘n ‘veilige’ en gemaklike wyse wil uitleef.
Studente, werkende mans asook professionele persone wat in George woon of werk kan gerus vir Jan-Erik Swart by southcapemusic@gmail.com kontak om meer besonderhede te ontvang.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’