GEORGE NUUS - George gaan sy eie 'July' kry. Die geleent-heid sal geskoei wees op die tradisionele July-perdewedren wat elke jaar in Durban plaasvind.
Die enigste verskil is dat "stokperde" in George gebruik gaan word en nie regte perde nie.
Alles is vir 'n goeie doel en die geld wat ingesamel word, is ten bate van die Seven Passes Initiative.
Die instansie bestaan al sedert 2008 en het al 'n groot verskil gemaak in die lewens van talle mense waaronder kinders van die Touwsranten-omgewing.
Wilmi Dippenaar, direkteur van die Seven Passes Initiative, het by navraag gesê die geleentheid staan bekend as, The George July with feathers & a twist. Daar word gehoop dat dit 'n jaarlikse geleentheid sal word.
Sy het benadruk dat dit 'n pretgeleentheid en 'n gemeenskapsprojek is. Dit sal op dieselfde dag as die July-perdewedren op 2 Julie plaasvind. Mense sal die wedren in Durban op grootskerm TV kan dophou.
Die geleentheid in George sal by die George Riding Club plaasvind. Altesaam vyf gewone "wedrenne" en ook 'n "hoofwedren" sal plaasvind.
Deelnemers sal met stokperde om 'n baan by die klub hardloop. Atlete van 'n bekende atletiekklub sal met die stokperde deelneem.
Om 'n "stokperd" in een van die gewone wedrenne te borg sal R750 kos en in die hoofwedren R1 000.
Toegangsgeld sal R295 per persoon beloop. Die July begin om 11:00 en hou aan tot 17:00. Slegs 200 kaartjies is beskikbaar.
Daar word gehoop dat besoekers dieselfde opwinding sal beleef as by die gewone July. Net soos by die gewone July sal daar ook pryse vir byvoorbeeld die besgeklede toeskouers en paartjies wees. Mense sal spoggerig en deftig kan aantrek.
Vir meer besonderhede kontak Wilmi by 072 673 4346.
Van die kinders wat al gebaat het by Seven Passes Initiative.
Wat doen Seven Passes Initiative?
In 2008 het Seven Passes Initiative begin met ‘n naskoolfasiliteit vir die kinders van die landelike gebied van Hoekwil. Tans is daar vyf programme:
• Naskool, opvoeding en lewensvaardighede
• Jeugontwikkeling
• Positiewe ouerskap
• Familie geweldvoorkomingsprogram
• ECD Centre – vroeëkindontwikkelingsentrum / crèche.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'