GEORGE NUUS - Filmmakers aan die Tuinroete het 'n heerlike kans gehad om weer aan die jaarlikse Film Race deel te neem met die uitdaging om 'n kortfilm binne 48 uur te vervaardig.
Dit is die vyfde Film Race wat Garden Route Media aanbied en het gedurende die naweek van 4 Oktober plaasgevind.
Spanne moes binne die spertyd 'n kortfilm konseptualiseer, skryf, skiet, redigeer en indien.
Deelnemers kon kies uit drie kategorieë: Amateur, Semi-professioneel en Professioneel. Die finale kortfilms moes tussen 3 en 5 minute lank wees. Elke span kry 'n unieke genre, rekwisiet en dialoog wat hulle in die film moet gebruik, en dis waar die ware uitdaging inkom.
Die doel van die Film Race is om belangstelling in die filmindustrie te stimuleer en plaaslike talent die geleentheid te gee om hul filmvaardighede ten toon te stel.
"Die kompetisie bied geleenthede aan filmmakers in streke buiten Johannesburg en Kaapstad, die twee hoofsentrums van die industrie waar sulke kompetisies meestal plaasvind.
"Deelnemers in onder meer die Tuinroete, Gqeberha, Bloemfontein en Durban neem aan die Film Race deel," sê Marius Wannenburg, Garden Route Media se uitvoerende hoof.
Klipheuwel Media in aksie.
"Ons wil 'n aanlynplatform bied waar filmmakers van reg oor die land kan wys wat hulle kan doen. Ons het wonderlike inskrywings ontvang en die talent groei elke jaar net meer en meer. Daar is ook 'n hele paar spanne wat elke jaar inskryf, en dis inspirerend om te sien hoe hulle elke jaar verbeter."
Expert Kloppers was die hoofborg en het groot pryse vir die wenners geskenk, onder andere koopbewyse ter waarde van R30 000 en uitstekende kameratoerusting. Kloppers het ook pryse geborg vir die beste agter-die-skerms-foto en beste akteur.
Die wenners is:
• Luc Prinsloo van Mosselbaai - beste agter-die-skerm-foto
• Vilje Maritz van George - beste akteur
Die volgende Afdelingwenners is almal uit die Tuinroete:
Semi-professioneel
• Charl Diener (1ste)
• Six Snoot Studio (2de)
• Jordan Films (3de)
Professioneel
• Martian Pineapple Productions (1ste)
• Meerfout Films (3de)
Kyk die wenfilms van elke kategorie hier.
Ark Films se kameraman en spelers doen hulle ding.
'n Toneel uit KM Studio se film.
Op die stel van Bearcat Aroma.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’