MUSIEKNUUS - Die laaste konsert in die herfsreeks van etensuurkonserte 2026 vind Woensdag 6 Mei om 13:10 in die Moederkerk plaas.
Die kunstenaars wat optree is 'n trio bestaande uit Cornel Engelbrecht (klavier), Franco Engelbrecht (baskitaar) en Jewlin Jonkers (slagwerk).
Hul program, My Favourite Things, neem ons op 'n musikale reis vanaf Salzburg met die helder Alpe-klanke van The Sound of Music tot by die suide van Afrika, waar ons ons kan verlustig in gunstelinge soos "Victoriabaai".
Hierdie en ander bekende liedjies van onder meer The Beatles, Michael Jackson en Bill Withers dra 'n nuwe baadjie wanneer die trio met hul voorliefde vir improvisasie en ritme met hulle klaar is!
Die konsep is dié van Cornel Engelbrecht, wat nie net pianis is nie, maar ook tjellis, verwerker en komponis wat gemaklik tussen genres beweeg.
Hy het sy M Mus in klavierbegeleiding (cum laude) aan die US verwerf, en is in 2024 by die Woordfees as beste opkomende kunstenaar genomineer.
Hy tree gereeld as pianis by internasionale vaartlyne op en werk in verskillende style, klassiek, jazz en teaterproduksies. Hy word vaardig bygestaan deur Engelbrecht en Jonkers.
Die konsert is gratis, maar donasies word gevra om die kunstenaars te ondersteun.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’