GEORGE NUUS - Dis September en vir musiekliefhebbers beteken dit die volgende reeks etensuurkonserte is ophande.
Hierdie jaar se lentereeks skop eerskomende Woensdag, 14 September, af met ‘n ‘dubbele konsert’ deur die pianis Stern Bezuidenhout en die sopraan Joan Wilken.
Bezuidenhout het die praktiese komponent van sy M Mus by die Universiteit van Pretoria met lof geslaag. Hy het wye ervaring as solis en begeleier en was een van agt pianiste wat as ‘n ensemble by die Brooklyn Klavierextravaganza opgetree het.
Hy gaan die Franse Suite no 5 in G majeur, BWV 816 van JS Bach, asook die Allegro uit die Klaviersonate in E mol majeur HOB XVI:49 van J Haydn speel.
Wilken was ‘n sanglektor by die Noordwes-Universiteit (Potchefstroom) en het dikwels as solis opgetree in operaproduksies vir NAPA, CAPAB en die Roodepoort Stadsorkes onder Weiss Doubell.
Sy gaan ‘n paar nommers lewer wat die volgende gunstelinge insluit: Caro mio ben deur Tommaso Giordani, Porgi, amor uit die Huwelik van Figaro deur Mozart en Songs my Mother taught me uit Gypsy Songs van Antonin Dvorak. Sy sal begelei word deur Phyllis Goldblatt.
Die konsert vind tussen 13:00 en 14:00 in die NG Moederkerk plaas.
Toegang is gratis, maar donasies is welkom.
Pianis Stern Bezuidenhout
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'