GEORGE NUUS - Deur my Oë, 'n toneelstuk wat op Sondag 11 Junie om 15:00 in die George-kunsteteater opgevoer word, vertel die verhaal van Maria, die vrou wat uitverkore was om Jesus se ma te wees.
Die regisseur en skrywer, Cindy van Wyk, sê dis 'n persoonlike en intieme reis deur hierdie Bybelkarakter se lewe. Dis in die vorm van 'n eerstepersoonvertelling van Maria se ervaring van voor Jesus se geboorte tot na Sy kruisiging, met Elsabe Viljoen in die rol van Maria. Mauritz Smit speel die dissipel Johannes.
Viljoen het 'n bietjie agtergrond oor haarself en die stuk met George Herald gedeel.
Sy en haar man het twee jaar gelede van die Kaap na Victoriabaai getrek. Werk in die omgewing is skaars en sy het besef sy sal self iets moet begin doen as sy besig wil raak, maar sy wil nie net enigiets aanpak nie - haar doel met haar akteursloopbaan is om 'n positiewe impak op mense se lewens te maak.
"Ek wil stories vertel wat lewens kan verander en ek hou van karakters waar ek diep moet gaan krap en soek, en wat my gaan raak. Draaiboeke skree meestal teen dit waarin ek glo en ek het gebid en gevra dat God se wil moet geskied, maak nie saak wat nie. En dat dit wat ek moet doen, Sy guns moet geniet."
Sy het 'n ruk gelede een oggend wakker geword met die liedjie van Pentatonix, Mary did you know, in haar kop. "Net daar weet ek toe, dis dit. Maria se storie moet vertel word."
Sy het Van Wyk genader om die teks te skryf want hulle het reeds voorheen saamgewerk en het dieselfde waardes.
Die karakter Maria
Viljoen sê sy het haarself vir die afgelope twee maande meestal afgesonder. "Ek soek God om my te help, want ek kan dit nie in my eie krag doen nie. Ek het gaan soek vir inligting oor Maria en die tydperk, nes Cindy gedoen het, maar my taak is om die karakter lewe te gee."
Terwyl sy deur die teks gewerk het, moes sy 'n paar keer eers als neersit, want die trane het geloop. "'n Mens besef nie wat Maria deurgemaak het nie. Die vrees en onsekerheid, veral as jong meisie. En dan die onmenslike hartseer met haar seun se dood. Die stuk belig Maria as die ma van die Messias - haar intense verhouding met haar kind wat sy moes oppas, want die engel het haar 'n opdrag van God gegee; haar en Josef se pad wat hulle moes loop te midde van die gevare, onsekerhede en uitdagings van daardie tyd; en wie Maria as mens was en hoe sy moes deel met die verskriklike belangrike taak wat sy opgelê is," vertel sy.
Haar eie rol as ma van vier kinders (tussen 21 en 29 jaar) help haar in die vertolking. "Maria het ook 'n groot gesin gehad - sewe kinders. Sy was 'n ma soos ek en jy - met ons vrese, ons bekommernisse en baie trane en vrae. Maar sy het 'n taak gehad, om die Messias groot te maak en op te pas met alles wat sy het. Ons doel met die stuk is dat die Here harte sal aanraak, en mense sal nader trek na Hom. Die stuk is geskik vir die hele gesin."
Viljoen het grootgeword in die Kaapse noordelike voorstede. Sy het van 2017 af in verskeie internasionale films verskyn, Samson the Movie, Maze Runner 3, Kissing Booth, The Red Sea Diving Resort en Action Point.
Sy het 'n hoofrol in Blouwyn vertolk, 'n plaaslike film wat ook deur Cindy van Wyk geregisseer is. Daar was ook 'n paar kortfilms en 'n hoofrol in 'n teaterstuk, Vrou van Orde, geregisseer deur Bobby Stuurman.
Slegs een vertoning van Deur my Oë word aangebied. Kaartjies is beskikbaar by www.computicket.com.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’