GEORGE NUUS - “Ek was op ‘n high, dit het onwerklik gevoel om in Hollywood te wees. Dit was ‘n eer en voorreg om kennis te maak met die Rice Burroughs-familie. Om met hulle oor my droom, om in die volgende Tarzan-film die hoofrol te speel, te gesels.
"Dit was cool en ‘n hoogtepunt in my lewe om hul besoekersboek te teken, terwyl ons op die familie se Los Angeles-landgoed (Tarzana) gekuier het.”
Só gesels DeWet du Toit (36) oor sy besoek aan Hollywood in April 2022. Die jong man van George het sy tyd goed benut en onderhoude gehad met agente sowel as om met Tinseltown-rolspelers te gesels oor die moontlikheid oor wanneer die volgende Tarzan-rolprent vervaardig sal word.
Die geluksgode was aan DeWet se kant toe Rian van Heerden, bekende Suid-Afrikaanse TV-persoonlikheid en rolprentvervaardiger aanbied om DeWet na Hollywood te neem as deel van ‘n 5-deel dokumentêre film oor die “jong dromer met sterretjies in sy oë” vir kykNET.
Die aantreklike spiertier vertel met flitsende blou oë, “Ek kon dit amper nie glo nie en was selfs aanvanklik ‘n bietjie skepties.” Hy het geleer dat die vermaaklikheidsbedryf nogal ongenaakbaar kan wees. Daarom was die hele Hollywood avontuur juis so fantasties.
Van Heerden se maatskappy, Provoco, het gesorg vir ‘n gladde ervaring, waartydens DeWet en sy tweelingbroer Rudolf, eerstehands kennis gemaak het met die Hollywood fantasiewêreld. En selfs die beroemde Universal Studios besoek het.
In die Hollywood-voetspore van Tarzan
Edgar Rice Burroughs, die skrywer van die oorspronklike Tarzan-series waarop die heel eerste rolprente gebaseer was, het ‘n Los Angeles-landgoed bekend as Tarzana nagelaat wat ingerig is soos ‘n museum. “Die familie was vriendelik en tegemoetkomend, en na afloop van ons ontmoeting het hul gesê hul dink ek sal ‘n goeie en waardige Tarzan uitmaak.
"Dit was natuurlik juis die aanmoediging wat ek nodig gehad het om voluit te gaan om my droom na te streef.”
Rian met die Hollywood-towerstaf
DeWet besef maar te goed dat geluk ‘n groot rol speel om jou ideale te verwesenlik. Vir ‘n onbekende akteur om ‘n hoofrol los te slaan verg dat jy in die regte plek, op die regte tyd moet wees, en oor hope talent en deursettingsvermoë moet beskik.
Dit was ‘n uitsonderlike geleentheid, vertel DeWet tydens ‘n onlangse onderhoud. “Ek kon Hollywood op my lippe proe, dit was alles so binne bereik. “Ek het die ervaring gehad om met die Hollywood Walk of Fame in Hollywood Boulevard af te stap.” Kaal bolyf, geklee in sy skamele Tarzan-velletjie het hy vol selfvertroue deur die beroemde toeriste-attraksie gedrentel met die kykNET-span in tou.
Rian se produksiespan het maar te goed besef dat sy tweelingbroer en steunpilaar, Rudolf, seer sekerlik ook die hele ervaring moet meemaak want die tweeling is onafskeidbaar. Saam het hulle die eerste lokfilm gemaak om die Hollywood-base se aandag te trek. Die twee het die sosiale mediakunste bemeester en die selfvervaardigde film het 50 miljoen hits gekry oor die afgelope dekade.
Die tweeling het oor die jare sekergemaak dat hulle hul lokprent meer gesofistikeerd raak met dramatiese klankbane en DeWet se geoefende Tarzan-bewegings, met die Outeniquaberge as die ideale agtergrond. Al wat eintlik ontbreek het was ‘n swaai met ‘n bobbejaantou en die Tarzan-kreet.
In die eerste episode van die reeks, het die kykNET-span met die Du Toit-familie in George gesels en dit het gou duidelik geword dat hul vader ‘n groot rol gespeel het in hul bekoring met die Tarzan-fantasiekarakter. ‘n Paar generasies is aangegryp deur die gespierde man se avonture in die oerwoud en sy missie om Jane uit die kloue van boewe te red.
Jane was ‘n ontwykende skim
Oor die afgelope 13 jaar het DeWet en sy broer Rudolf, waardevolle ervaring opgedoen terwyl hul klein rolle in internasionale rolprente wat in Kaapstad opgeneem is gespeel het. Hulle het die kuns om as waaghalse te werk aangeleer, en selfs vir ‘n paar maande op die verhoë in die hoofsentra van SA opgetree in ‘n sirkusvertoning.
“Ons het in ‘n woonstel gewoon, en ek en my broer het alles opgeoffer om seker te maak dat ons elke faset van die rolprentbedryf leer ken. Daar was nie tyd vir meisies nie. Om op ‘n filmset te werk beteken lang ure en dit laat geen geleentheid om aan ‘n verhouding te werk nie.” Die Huisgenoot het in ‘n onlangse berig veel hiervan gemaak.
Berigte oor die wedervaringe van DeWet du Toit, wat beter bekendgestaan het as 'Tarzan van George', het gereeld in George Herald verskyn. In Black Sails het hulle die kuns om swierige swaardgevegte bemeester.
Die harde bene wat hy al gekou het in bedryf het hom taamlik realisties gemaak oor wat dit behels om megaster-status in Hollywood te bereik. En hy besef maar te goed om jouself te handhaaf in ‘n duur stad soos Los Angeles - is gewis die volgende hekkie wat hy en sy broer sal moet oor kan spring.
Beroemd in SA
Intussen geniet hy die nuutgevonde bekendheid wat die kykNET-reeks aan hom gebring het in Suid-Afrika. Al hoe meer kykers hou nou duim vas dat hy sukses in Hollywood sal behaal.
Die Du Toit-broers bly besig met projekte in George. En terwyl ons praat oor hul aanpasbaarheid - dalk is dit ‘n uitstekende idee vir die twee om te mik vir Bollywood waar die gelukkige einde van ‘n Tarzan-sprokie voorspelbaar is.
Die finale toneel sal een groot, vreugdevolle troue wees waar die hele bruidfamilie die rondomtalie dans van geluk doen om Tarzan en sy Jane-bruid.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’