Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) vind in sy aangepaste nuwe vorm van 29 Maart tot 3 April 2022 in Oudtshoorn plaas en, in 'n neutedop: álmal is welkom – ingeënt al dan nie, maar daar is wel enkele bepalings en voorwaardes wat sal geld om alles vlot te laat verloop.
Die besluit om 'n inentingsmandaat toe te pas, is daarop geskoei dat die KKNK die veiligste moontlike fees aan sy besoekers, kunstenaars, personeel, diensverskaffers en die gemeenskap van Oudtshoorn wil verseker.
Dit behels om riglyne te volg soos aanbeveel deur gesondheidsowerhede.
Sedert die aankondiging dat die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) vanjaar weer in Oudtshoorn gaan plaasvind, het die publiek op talle maniere en platforms na die feesorganiseerders uitgereik oor die besluit om 'n inentingsmandaat toe te pas by vanjaar se KKNK.
Alle moontlike veranderlikes word deurlopend deur die KKNK oorweeg en in oorlegpleging met 'n advieskomitee van regs- en mediese deskundiges word moontlike aanpassings en toegewings gemaak.
"Ná 'n afwesigheid van twee jaar is die fees terug in Oudtshoorn met die bedreiging van Covid-19 wat steeds in ons midde is.
As feesorganiseerders moet ons die beste oplossings probeer vind om 'n veilige omgewing te skep vir 'n groot massa feesgangers en alle ander betrokkenes om blootstelling aan die virus maksimaal te beperk," sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk.
Inentingsmandaat
"Die KKNK volstaan by die toepassing van 'n inentingsmandaat ten goede van alle betrokkenes. Ons gee egter terselfdertyd die versekering dat oningeënte persone nié weggewys sal word nie, mits hulle aan die voorwaardes en bepalings voldoen soos vervat in die mandaat," sê Theart.
Hierdie voorwaardes en bepalings sluit in om Covid-19-negatief te toets deur middel van 'n vooraf voltooide antigene sneltoets, óf deur 'n PCR-toets. Mense wat bewyse van inenting óf 'n negatiewe Covid-19-toetsresultaat kan lewer, sal van 'n toegangskenteken, 'n armband, voorsien word.
Die proses wat gevolg sal word, is eenvoudig. As jy met jou inentingskaart/-sertifikaat na die fees kom (papier of elektronies), gaan beamptes jou inentingsertifikaat teenoor jou identiteitsdokument (groen strepies-dokument of ID-kaart), paspoort of geboortesertifikaat nagaan en verifieer.
Dieselfde geld vir buitelandse persone, wat soortgelyke bewyse van inenting in hul land sal moet toon.
Inenting verwys na een Johnson & Johnson-inspuiting en 'n aanvulling (booster shot) of twee Pfizer-inentings. Sodra jou inligting geverifieer is, sal jy jou kenteken vir toegang ontvang. Toegangskentekens sal by 'n aantal vooraf goedgekeurde lokale beskikbaar wees.
Die KKNK sal wel by alle lokale (ook dié waar daar nie toegangskentekens beskikbaar gestel word nie), die inentingsertifikate van almal nagaan wat nie 'n kenteken in hul besit het nie.
Indien jy die fees wil besoek met bewyse van 'n negatiewe Covid-19-toetsuitslag, hetsy deur 'n PCR- of antigene sneltoets bekom, sal dit ook by alle lokale nagegaan word.
Hierdie toetsuitslae mag nie voor 28 Maart geneem gewees het nie (vir die publiek) en voor 26 Maart vir leweransiers en kontrakteurs. Jy kan ook bewyse lewer dat jy binne die afgelope drie maande positief getoets het vir Covid-19.
Besoekers sal ook van 'n kenteken voorsien word wat sal aandui dat hul besonderhede geverifieer is. Alle kinders onder 12-jarige ouderdom word nie onder die bogenoemde bepalings en voorwaardes ingesluit nie en verkry dus vrye toegang toe alle lokale.
Kinders tussen 12 en 18 jaar sal aan dieselfde vereistes soos hierbo genoem, moet voldoen.
Ouers mag dalk gevra word om identifikasie te toon vir kinders onder 18.
Lees die volledige inentingsmandaat op hul webwerf.
Theart sê: "Ons vra die publiek se geduld en samewerking om alle prosesse seepglad te laat verloop – soos ons ook die versekering gee dat die KKNK alles in sy mag sal doen om dieselfde aan ons feesgangers te bied, wat gewoond is aan 'n gehalte-ervaring."
Lees meer op susterskoerant, Oudtshoorn Courant
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'