ENTERTAINMENT NEWS - Die tweede seisoen van die avontuur-realiteitsreeks Die Brug wat verlede jaar by die Tuinroetedam verfilm is, het verlede Donderdag 8 Mei op kykNET begin met 'n nuwe span van sewe deelnemers.
Hulle is vreemdelinge vir mekaar en ding mee teen mekaar terwyl hulle moet saamwerk om 'n brug oor die dam te bou om die skat te bereik - R1 miljoen vir die wenner.
In die eerste episode moes hulle wegspring deur die houthuis in te rig om in te bly. Nadat hulle eers toegang kon verkry deur die kode van 'n kombinasieslot te ontsyfer, moes hulle ontdek dat die hut in 'n chaotiese toestand is wat nie geskik is om net in te trek en te bly nie.
Toe moes 'n leier gekies word, slegs op eerste indrukke, en slegs ure nadat die deelnemers mekaar ontmoet het, moes hulle reeds een van die deelnemers huis toe stuur.
Die onverwagse verskyning van 'n geheimsinnige vreemdeling genaamd Hirome teen die einde van dié episode het almal aan die wonder oor wat sy rol is en wat sy aankoms vir die oorblywende deelnemers sal inhou.
Die deelnemers is Melissa Klein (37), begrotingsbestuurder van Pretoria, Hannes Roodt (33), entrepreneur van Benoni, Hanri Ehlers (39), advokaat en boer van Delmas, Hilana Marais (43), kunsonderwyseres van Gqeberha, Jaco Davel (43), instandhoudingstegnikus van Oos-Londen, Luwellen Marx (53), boubestuurder van Mosselbaai, en Wilhrisca Brits (30), internasionale model en motorsportjoernalis van Polokwane.
Volg die intrige deur Donderdagaande om 20:00 in te skakel op kykNET.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’