GEORGE VERMAAKNUUS - Die woestyn gaan blom - só sing Hakkiesdraad Hartman, ook bekend as Jason Hartman, 'n Pacaltsdorper wat trots sy ryme klets, "...Ek sê vir jou O'boet dis die sirkel mense dansend om 'n vuur, beginselhegte manne van kultuur, dames van statuur..."
Dit kom van die eerste enkelsnit, Woestyn blom, van sy opkomende album. Dit is die nuutste liedjie waaraan Hakkiesdraad in samewerking met mense soos Zenobia Kloppers van Fiela se Kind-faam, Lynelle Kenned die sopraan van Kaapstad, en die groep Tribal Echo werk.
Die kunstenaars was onlangs in George waar hulle hul tyd vrylik gedeel het vir die maak van die musiekvideo vir die enkelsnit.
Hakkiesdraad het Zenobia ontmoet by die produksie van Die Riel van Hip Hop waar die liedjie, Woestyn blom, ook opgevoer is. Lynelle het saam met Hartman by die ATKV gesing en deel ook haar stem op die liedjie, asook Deniel Barry van Tribal Echo.
Zenobia vertel sy wou deel wees van die projek omdat jare terug, toe sy en Hakkiesdraad deel was van Die Riel van Hip Hop, dit reeds vir haar belangrik was.
"Ek het 'n groot belangstelling in outentieke stories, Afrikaanse stories. Ek was self baie betrokke en het Afrikaanse karakters in stories gespeel. Ek is aangetrokke tot aardse karakters en stories wat outentiek Afrikaans is." Sy voel dit was van die begin af 'n soeke na haar eie identiteit, dit is hoekom sy sulke karakters wou vertolk. Met haar en Hakkiesdraad se ontmoeting het sy reeds baie van hom gehou.
Zenobia Kloppers"Hy is 'n beautiful mens, 'n ongelooflike kunstenaar, hy het baie siel." Sy meen dit was 'n "no brainer" om hom te help om die visie van hom 'n realiteit te maak.
Lynelle sê sy kan net by Zenobia aansluit deur te sê, deur van haar tyd, energie en gawe te gee voel sy sy is deel van iets groter as sy. "Ek gee my tyd met plesier. Mense mag voel die musiek is ontoeganklik, maar die perke is net sover soos wat jy dit toelaat," sê sy.
Deniel wat uiteindelik voltyds haar tyd aan musiek bestee, leen ook haar sopraanstem aan die liedjie. Haar man, Fraser Barry, is verantwoordelik vir die musiek van die liedjie.
Deniel Barry
Hakkiesdraad sê hy is dankbaar vir almal wat hul tyd aan die projek afgestaan het, van die sangers, sportmanne en die trotse Khoi-manne. Hy sê hy wil hê ons moet die mooi in mekaar begin sien, veral na die droogte waardeur die mense gegaan het.
"Maar ek sien ook 'n trots groei in ons mense oor die jare, en dis hoekom die liedjie so relevant is. Die woestyn waarin ons lewe, gaan een of ander tyd begin blom, dis hoekom die titel, Woestyn blom is."
Lynelle Kenned
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'