Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die Wessos-gospeltrio van George het Saterdagaand, 30 Oktober, hulle eerste album bekendgestel, ongeveer vyf jaar nadat hulle as ‘n groep begin optree het.
Die album, getiteld Move of God, is vir die drie lede, Shu-Shane en Lee-Roy (broers) en Emmanuel (hul neef) Wesso, ‘n nuwe hoogtepunt nadat hulle een jaar gelede vyfde geëindig het in Emo Adams se gewilde televisiekompetisie, Maak My Famous. Dit was uit meer as 8 000 inskrywings.
Die bekendstelling van die album is by die Restoration Fellowship Garden Route in George gehou. Daar is 10 liedjies waarvan die groeplede self nege in 'n rekordtyd van twee weke geskryf het.
"Ons kon dit nie self gedoen het nie en gee aan God al die eer," sê Lee-Roy, die jongste lid van die groep.
Nadat hulle betaal het vir ‘n volledige album se opname, het hulle net een voltooide liedjie, The Bible Says, gehad. Hulle het boonop gesukkel met die opname van die eerste liedjie. Emmanuel vertel, “Ons wou nie sommer net ‘n album uitbring nie, maar iets uniek skep met ‘n boodskap wat mense sou moed gee en hulle sou oplig.”
Video: Wesso's stel eerste album vry
Ná daardie eerste opname, het hulle verstom gestaan toe die liedjies net begin vloei. Binne net een en ‘n halwe week het hulle meer liedjies gehad as wat nodig was vir die album. “Twee maande later was die opnames klaar. Dit is hoe ons op die naam vir die album gekom het,” sê Emmanuel.
Die album bevat vyf Afrikaanse en vyf Engelse liedjies en sluit Corona in, ‘n enkelsnit geskryf deur hulle musiekdirekteur Jumario Thysse.
Volgens Shu-Shane het Maak My Famous hulle baie oor die industrie geleer. “Dit het ons laat groei in alle aspekte van ons lewens en ons as groep het ook nader aan mekaar gekom.”
Lee-Roy sê: “Danksy die bietjie fame wat ons opgetel het, sien en hoor meer oë en ore ons, so ons kan baie meer mense bereik. Hierdie is werklik wat ons met ons lewens wil doen - van plek tot plek beweeg met die boodskap van die Bybel sodat mense se lewens kan verander deur wat ons doen.”
Aldrie het in Borcherds grootgeword. Shu-Shane en Lee-Roy se pa het ‘n plaaslike orkes gehad toe hulle kinders was, wat die liefde vir musiek gekweek het. Shu-Shane en Emmanuel het van laerskooldae af saam by a cappella-groepies aangesluit. “Musiek is in ons bloed,” sê Lee-Roy.
Emmanuel se blootstelling aan musiek van kleins af was deur sy pa, ‘n gelowige man, wat oral met sy kitaar rondbeweeg het om die Woord te verkondig.
Hulle wil positiewe rolmodelle wees vir seuns en jongmans wat misdaad en dwelmgebruik sien as die norm.
Shu-Shane vertel: “Danksy Maak My Famous het baie mense ons begin raaksien. Oral waar ons kom, trek ons jongmense aan wat wil raad hê of oor hulle probleme wil praat. Ons kan nou vir hulle gidse wees met die boodskap dat as óns dit kan doen, kan hulle dit ook doen. Ons wil jongmense help om ook op ‘n plek te kom waar God hulle kan gebruik deur wat hulle in hul lewens bereik en doen.”
Move of God is digitaal beskikbaar. CD-formaat word slegs op bestelling verskaf by hul bestuurder, Lynn Latief by cascadethenetwork@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'