KUNS EN VERMAAK NUUS - 'n Paar maande nadat sy grootste vertaaldroom afgehandel is, kan die digter en vertaler Daniel Hugo nog nie dié lywige boek van byna 800 bladsye in sy hand hou nie.
Dit het Hugo, wat die afgelope jare in Prins Albert woon, meer as 'n jaar geneem om Die Verdriet van België, deur die Vlaming, Hugo Claus, te vertaal.
Dié klassieke boek is in 1983 geskryf en Hugo bestempel dit as een van die belangrikste Nederlandstalige romans van alle tye. Maar, bekendstellings in Suid-Afrika en oorsee vir die grootse werk van België is uitgestel weens die inperkingswette. Boekverspreidingsmaatskappye en boekwinkels mag net teksboeke hanteer en verkoop.
Hugo, met sestien digbundels op sy naam, het al by die sestig boeke uit Nederlands (deur Nederlandse en Belgiese skrywers) in Afrikaans vertaal. Dit sluit in digbundels, romans, jeugromans en kinderboeke. Van die Engelse boeke wat hy vertaal het, sluit in The keeper deur Marguerite Poland (Die bewaker), Runaway Horses deur Joyce Kotzè (Wintersrust), asook die Amerikaner Jodi Picoult se Plain Truth (Die belydenis) wat pas verskyn het en Ninenteen Minutes (Negentien minute) wat nog in die produksieproses is.
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het Hugo in 2014 en 2016 vir sy vertaalwerk bekroon, vir Sprakeloos deur Tom Lanoye en Oorlog en terpentyn deur Stefan Hertmans. Ander gunstelinge van Hugo is die spanningsromans Die aandete en Vakansiehuis met swembad deur Hermann Koch, Dimitri Verhulst se Die helaasheid van die dinge, Adriaan van Dis se Tikkop, en El Negro en ek deur Frank Westerman.
"Die belangrikste vereistes vir goeie vertaalwerk is 'n goeie kennis van die brontaal en 'n bogemiddelde vaardigheid in die doeltaal, gewoonlik die vertaler se moedertaal. Elke teks stel nuwe uitdagings aan my. Dis belangrik dat jy getrou bly aan die inhoud en styl van die verhaal of gedig wat vertaal word. Dit beteken nie letterlike oorsetting nie, maar die gees van die oorspronklike moet behoue bly," sê Hugo.
Hy meen ook dis onnodig dat die vertaler vooraf 'n studie moet maak van die bronteks se struktuur met sy temas, leitmotiewe en simbole. "Jy hoef nie psigologiese insig in die karakters te hê nie. Al wat jy moet doen, is om getrou te wees aan die oorspronklike teks.
Die enigste gebied waarop jy moet interpreteer, is dié van die taalregister. Dis moeilik vir 'n nie-moedertaalspreker om presies vas te stel of die taalgebruik van die verteller of 'n karakter formeel, informeel, argaïes, ironies, sarkasties of wat ook al is. Register kan 'n vertaler maklik laat struikel."
Vertalers moet noukeurige lesers en skeppers wees, volgens hom. "Vertalers vind dikwels feite- en stylfoute in die bronteks wat hulle dan regstel. Soms kan 'n vertaling selfs 'n beter teks as die oorspronklike oplewer. 'n Goeie vertaling is 'n kunswerk in eie reg. 'n Vertaling mag nie soos 'n vertaling klink nie - dis die uitdagende paradoks van vertaalwerk." Hugo sê 'n vraag wat dikwels oor die vertaling van gedigte gevra word, is: Hoe getrou moet 'n vertaling aan die oorspronklike gedig bly? "Die eenvoudige antwoord is: So getrou as moontlik. As die vertaler self 'n digter is, word die vertaling soms onvermydelik 'n nuwe gedig, 'n eie skepping.
Die digter-vertaler se eie stem klink dan onmiskenbaar en klokhelder daarin op. Die ware digter bly dus getrou aan sy eie aard en poëtiese universum, selfs wanneer hy die werk van 'n digter van die ander kant van die aardbol vertaal."
Nederlandse en Vlaamse digters wat Hugo vertaal het, sluit onder andere in: Herman de Coninck, Gerrit Komrij en Rutger Kopland.
Afrikaanse vertalings van Europese werk versterk die aanbod van ons eie letterkunde, sê Hugo. "Só kry ons blootstelling aan die Europese volke se kultuur, denke en geskiedenis, en nie net aan dié van die Amerikaners en Engelse nie. Hiervoor kan Nicol Stassen van Protea Boekhuis bedank word, omdat hy die waagmoed het om soveel vertalings uit Nederlands te publiseer."
Hy is dankbaar daarvoor dat hy elke dag van sy lewe dit kan doen wat hom die meeste interesseer. "Om gedigte te skryf en te vertaal, dus … om met woorde te werk. Sedert ek as vryskut werk en op Prins Albert woon, het ek ook die emosionele en fisieke kalmte om kreatief én produktief te wees."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'