Gallery
VERMAAKNUUS - Musikante en liedjieskrywers Jan Blohm en Ryno Velvet het met kleure, klanke en ‘n titseltjie komedie die gehoor omvou in ‘n meesleurende ervaring by die Erika Turvey Art Gallery in Milkwood Village, Wilderness.
Die energieke maar intieme vertoning het ou gunstelinge sowel as nuwe werk van hierdie twee fenomenale kunstenaars bevat wat die gehoor geneem het op ‘n reis van woordkuns geklee in towerklanke.
Met ‘n kapasiteit vir 80 mense was die Erika Turvey Art Gallery die perfekte agtergrond vir hierdie intieme vertoning. Omsingel deur kunswerke, is die gehoor bederf met ‘n oudiovisuele kragtoer.
FOTOGALERY: VelvetBlohm by Erika Turvey Art Gallery (Foto's: Kiekie Kint Photography)
Jan Blohm en Ryno Velvet in aksie by Erika Turvey Art Gallery in Milkwood Village, Wilderness. Rondom hulle is van Blohm se eie kunswerke. Foto: Beatrice Esterhuysen
Woema
Erika Turvey sê sy “probeer weer bietjie woema in Milkwood Village kry”, en sy het haar uitstekend van dié taak gekwyt.
Die gallery is ‘n juweel om te besoek met ‘n fantastiese koffiekroeg. Al die kuns op uitstalling is haar eie oorspronklike werke, maar sy beplan reeds ‘n oop uitstalling vir November.
Vir diegene wat dit misgeloop het, is daar hoop. “Hierdie is die eerste van baie shows wat hier gehou gaan word. Ons het ‘n stampvol lineup vir Desember vakansie, so maak seker julle volg ons op Facebook en Instagram dat julle vinnig kan spring as daar events is,” sê Turvey.
Doelwit miljoen
Blohm en Velvet het so ‘Tussen die lyne’ laat val hulle dat hul nuwe album op 1 November vrygestel word en dat hul enkelsnit reeds op YouTube is.
Na ‘n indrukwekkende demonstrasie van hul danspassies op die video het George Herald besluit dat #velvetblohm1millionviewschallenge ‘n goeie idee sal wees! So kom ons ‘skree die stilte stukkend’ en besorg vir hulle ‘n miljoen YouTube Views!
Like en share Tussen die lyne deur Jan Blohm & Ryno Velvet op Youtube https://youtu.be/y6H_p2urBRg.
Jan Blohm (links) en Ryno Velvet saam met Group Editors se aanlyn sub-redakteur, Beatrice Esterhuysen. Foto: Ilse Schoonraad
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'