GEORGE VERMAAK NUUS - Die bekende liedjieskrywer en sanger Anton Goosen bring sy nuutste CD, Padkos, na die Oakhurst Insurance George Arts Theatre op 30 November.
Goosen is 'n sleutelfiguur in Afrikaanse musiek en word algemeen beskou as die vader van Afrikaanse Rock. Hy is die man agter treffers van kunstenaars soos Sonja Herold, Carike Keuzenkamp, Laurika Rauch, Francis Goya, en Koos Kombuis. Sy eerste album, Boy van die suburbs, is in 1979 vrygestel en het hom die eerste kunstenaar om 'n album van uitsluitlik sy eie werk in Afrikaans vry te stel, gemaak. Hy beskryf die musiek op die album Padkos as organiese klanke waaraan hy en Peter Pearlson, sy klankingenieur vir ses jaar gewerk het.
Anton sê die beskrywing "organiese klanke" verwys na die feit dat geen tromme, elektriese kitare, of elektroniese instrumente vir die album gebruik is nie. Die album is deurspek van akoestiese kitare, 'n Hammond-orrel, "stomp box", cajon, trompie, bongo's, mondfluitjie, traporrel, klavier, alt saksofoon, banjo ens.
Musikante wat gehoor kan word is onder andere Lise Swart (agtergrondstem) Schalk Joubert (baskitaar), Fred Koch (van die Bushrockband), Albert Frost, Gian Groen, Nielen Prinsloo, Denzl Keenan en Vernon Swart.
Anton sê hy het met die skryf en opnames van die album sy musikale wortels herontdek.
Die konsert vind om 20:00 op 30 November plaas. Kaartjies kos R120 en kan by Computicket gekoop word.
In die openingsnit, Diep Blou See bekyk en beskryf hy sy omgewing in Gansbaai vanuit ‘n boomhuis waar hy als kan dophou: die Noorkapperwalvisse, die witdoodhaaie, die perlemoen en galjoen, die hawe, ens.
‘n Pawpaw vir my Darling was die temaliedjie vir Koos Roets se film oor Jeanne Goosen se boek met die selfde titel. Die film sowel as die liedjie was lokettreffers.
Poliesman kan my nie vang nie is die storie van Scotty Smith oftewel George Lennox (1845-1919) wat ‘n perde en diamant dief was. Hy het by die rykes gesteel en die arm man gehelp het, daarom was hy ook bekend as Suid-Afrika se eie Robin Hood.
Ou blou geroeste kruiwa, Perlemoentjie en Sagte Kaapse Reën is liefdesliedjies, sommige in ‘n ongewone baadjie.
Die Uilvrou van Nieu Bethesda is die storie van Miss Helen Martins, die wêreldbekende “outsider” wat met die hulp van Koos Malgas verskeie eiesoortige sementuile en beelde geskep het.
Die bulldozers gallop is ‘n surrealistiese lawwigheid van hoe die Kaap en Gauteng, Tafelberg, die strand (en ander) kan deel.
Hy was ‘n goeie vriend van my is ‘n ode aan Anton se ontslape vriend, Ollie Viljoen. Een van die grootste musikante wat ons land opgelewer het.
Beestepote is ‘n herlewing van ‘n tradisionele Kaapse Karnavallied.
Innie Tsitsikama en In Werk (tot die sand alles uit die uurglas gly) is parodieë van die werklikheid en die perfektheid van ‘n Tuin van Eden en word daar gekyk na die futiliteit van die mens se bestaan in die modern era en sy hunkering na die perfekte, uit die gevangeskap van sy eksistensialisme.
Mzansi (word vervolg) is tweeledig. Eerstens is dit ‘n “lokliedjie” van wat op ‘n volgende album volledig aangeraak gaan word en terselfdertyd musikaal die rou aardsheid van Anton se homegrown musiek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'