Advertorial
TUINROETE NUUS - Net toe jy dink niks kan beter nuus wees as dat dit amper feesseisoen is op jou gunsteling vakansiedorp nie, kom die nuus dat die Afrikaans is Groot Somerfees, op Mosselbaai te siene sal wees.
Afrikaans is Groot is 'n jaarlikse hoogtepunt op die vermaaklikheidskalender. En hoe dan anders, aangesien dit die grootste Afrikaanse konsert ter wêreld is.
Op 28 en 31 Desember vanjaar gaan die Van Riebeeck-stadion dus klink en lyk soos nog nooit tevore nie.
Maak die name Steve Hofmeyr, Theuns Jordaan, Bok van Blerk, Snotkop, Elvis Blue, Jay, Ricus Nel, Dewald Wasserfall, Rohan du Toit en Ivan Roux jou opgewonde? Mooi! Want dan sal jou hart nog vinniger klop as jy hoor Demi Lee Moore, Riana Nel, Karlien van Jaarsveld, Tarryn Lamb, Corlea en Lianie May kom kuier ook op 28 Desember saam.
Bo en behalwe die groot name en glansryke kunstenaars se optredes om na uit te sien, is daar ook deurlopende vermaak op die dagverhoog. Skones en gespierdes kan gerus onthou om op 28 Desember te kom deelneem aan Mnr. en Mej. Mosselbaai.
Vir die aktiewes wat van sport hou, is daar op die oggend van 28 Desember 'n raakrugbytoernooi wat in samewerking met die Mosselbaai-rugbyklub aangebied word.
Die kleingoed sal vermaak vind in die waterpark waar 'n veilige speelplek geskep sal word om die jongklomp besig te hou terwyl ma die stalletjies besoek en pa dalk 'n draai in een van die drie biertuine beskikbaar, wil maak.
Maar die lekkerte eindig allermins daar. Op 31 Desember kan liefhebbers van Afrikaanse musiek hulle vere regskud vir die grootse Nuwejaarsjol in Afrikaans wat Mosselbaai tot nog toe gesien het - Alternatief is Groot.
Kom skud jou lyf en sing uitbundig saam wanneer kunstenaars soos Jack Parow, Early B, Die Heuwels Fantasties, Biggy, Glaskas, Straatligkinders, PHFAT, Almero, Sunset Sweatshop, Dans Dans Lisa, die Oujaar groet en die Nuwejaar verwelkom.
Selfs vir die bitterbekke wat altyd beweer dat daar geen plaaslike voordeel daarin steek om nasionale kunstenaars na die dorp toe te bring nie, is daar meer as genoeg om oor te glimlag. Die organiseerders het juis, in 'n poging om die plaaslike ekonomie 'n hupstoot te help gee, die AIG Somerfees só beplan dat plaaslike besighede daaruit voordeel trek.
Daar is 30 stalletjiestaanplekke beskikbaar en plaaslike aansoekers kry voorkeur. Aansoeke om 'n stalletjie te bedryf tydens die AIG Somerfees word verwelkom en kan gestuur word na eduard@saconcerts.co.za
Die hekke maak op beide dae 12:00 oop.
Vuur en vlam vir saamkuier by die AIG Somerfees, maar koue voete vir die druk vakansieverkeer? Ook hieraan het die organiseerders gedink. Feesgangers wat nie self na die Van Riebeeck-stadion toe wil ry nie, kan gebruik maak van die vervoeroptelpunte by Dolf se Stasie, Hartenbos of die AIG Kuierarea in Diasstrand. Vir diegene wat wel eie vervoer gebruik, wees verseker dat daar genoeg parkering sal wees. Hiervoor word die onderste sportveld van Van Riebeeck-stadion gebruik en die parkeerarea sal deur Hoërskool Punt beheer word.
Kaartjies vir die Afrikaans is Groot Somerfees, is beskikbaar by Computicket. Enige verdere inligting kan verkry word deur e-pos te stuur na eduard@saconcerts.co.za
Maak ook 'n nota van:
Van Riebeeckstraat gaan gesluit wees vanaf 09:00 tot 24:00 op 28 Desember en vanaf 12:00 tot 24:00 op 31 Desember sodat buspassasiers afgelaai kan word en ook vir voetgangers se veiligheid.
- Die voorbereidings begin vanaf 17 Desember en opruiming vind op 2 Januarie 2020 plaas.
- Klanktoetse sal gedurende die aande tydens hierdie bogenoemde periode gedoen word. Die organiseerders sal dit so kort moontlik hou.
- Spesiale effekte asook beligting sal op die verhoog en feesterrein gebruik word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'