Die uitvoerende hoof van die Absa KKNK, mnr. Brett Pyper, het by die programbekendstelling, wat hierdie week by die Kasteel in Kaapstad plaasgevind het, gesê vanjaar se fees bied 'n breër keuse van kuns en vermaak vir die hele gesin.
"Daar is 'n groot toename in oorspronklike werke (54 debuutproduksies vanjaar teenoor 2012 se 37), waaronder 22 toneelstukke, 18 musiekteater en kontemporêre musiekproduksies, sewe klassieke musiekuitvoerings, vier spesiaal saamgestelde woordkunsprogramme, twee kraakvars kinderteaterstukke en een hoëprofiel nuwe dansteaterproduksie," sê Pyper.
Pyper sê van die hoogtepunte op vanjaar se program sluit in die debuutproduksie Balbe-sit, uit die pen van die bekroonde dramaturg Saartjie Botha, asook die musiekproduksie Dorothy/60 Jaar wat die lewe en musiek van Dorothy Masuka gaan vier. Masuka gaan die verhoog deel met Laurika Rauch, Karen Zoid, Zolani Mahola en die Africa Voices Koor.
"Met soveel om van te kies, met die pragtige en feestelike Klein Karoo as ons verhoog en skilderdoek, bly Oudtshoorn Suid-Afrika se leidende kuns-en vermaakbestemming oor die Paasvakansie. Ons maak reg om julle met skeppingskrag en geselligheid te oorrompel," Volgens Pyper.
Lynn Naude, algemene bestuurder: Absa Borgskappe, het Pyper se boodskap benadruk en sê feesgangers kan hulle regmaak vir 'n fees soos min: Absa se borgskap van die Absa KKNK strek nou in sy 9de jaar en ons voortgesette betrokkenheid met die fees beklemtoon Absa se toegewydheid tot die ontwikkeling van al die kunste in Suid-Afrika.
"Ons is trots om geassosieer te word met 'n fees wat deur die verskeidenheid produksies die diversiteit van Suid-Afrika weerspieël en sien uit na die 2013 weergawe. Die Absa KKNK gaan elke jaar van krag tot krag en sodoende word al hoe meer Suid Afrikaners en kunstenaars blootgestel aan die wondere van hierdie
fees.". . sê Naude.
Die fees spog ook vanjaar met baie nuutjies:
- Vaste tydgleuwe vir produksies maak dit makliker om jou feesskedule te beplan, aangesien produksies wat herhaal, daagliks dieselfde tyd sal speel;
- Die Huisgenoot Musiekplaas keer na jare weer terug na die REC (Oudtshoorn Krieketstadion) en drie groot musiekkonserte word oor die eerste drie aande van die fees daar aangebied;
- Die gewilde Top 40-Verhoog bied sy sterkste program tot nog toe aan. Hoofkuns-tenaars sluit in: The Rockets, Dr. Victor and the Rasta Rebels, Emo Adams en Take Note, asook Idols sterre Crushanda en Karin Kortje.
- Die 10 tot 10-verhoog – die fees se splinternuwe verhoog, gemik op die Afrikaanse gesinsmark – word in die hartjie van die Rivierbuurt aangebied.