Eerstens gaan Dana Winner, die bekende en geliefde Belgiese sangeres, op 6 April op die Musiekplaas optree as deel van haar toer vir die internasionale bekendstelling van haar nuutste album, Bloom. Sy vertel dat dit die eerste album is wat sy self vervaardig het en dat die liedjies daarop dus meer persoonlik as gewoonlik is omdat hulle spesiaal vir haar geskryf is. Benewens Belgies, Duits en Frans gaan sy ook drie liedjies in Afrikaans sing by dié konsert.
Een van die drie is die pragtige Lied van hoop deur die bekende Suid-Afrikaanse liedjieskrywers Rudi Miller en Kobie Koen. Winner het tydens ’n onderhoud gesê, “Almal soek altyd na daardie klein vonkie hoop. Ons smag na wêreldvrede en hoop voortdurend daarop. Dit is waaroor dié liedjie gaan.”
Winner, wat al 25 jaar in die bedryf is, noem van die liedjies “brose klein liedjies”, maar sê gehore kan ook uitsien na “groot” liedjies met meesleurende orkesbegeleiding. Daarom bring sy dié keer haar orkes saam Suid-Afrika toe.
Nog twee sangers wat geen bekendstelling nodig het nie, is Mick Foster en Tony Allen, beter bekend as Foster & Allen. Hul buitelugkonsert op 7 April, ook op die Musiekplaas, maak deel uit van hul Gold & Silver Days-wêreldtoer. Sedert hul eerste groot treffer, Bunch of Thyme, in 1979 het dié Ierse duo meer as 800 liedjies en 29 albums opgeneem. Dit maak dit nie maklik om te besluit wat om tydens ’n konsert te sing nie, maar wees gerus, hulle gaan beslis van hul grootste treffers soos Maggie sing.
Die derde groep is The Ruggeds, ’n opwindende span hip-hoppers en B-Boys van Nederland. Dié groep maak tans wêreldwyd opslae en het verlede jaar onder meer aan die freestyle-wêreldkampioenskappe in Los Angeles deelgeneem en is aangewys as die B-Boy Wêreldkampioene. Vyf van die lede gaan op 9 April saam met Afrikaanse rymkletsers in Rymklets optree en sal ook straatvertonings in Baron van Reedestraat lewer en werksessies aanbied.