GEORGE NUUS - Die tweede konsert in die Etensuurkonsert Lentereeks vind Woensdag 21 September in die NG Moederkerk plaas.
Orreliste Daniël Nel en Gerrit Jordaan deel 'n program van orrelmusiek met solowerke van Bach, Liszt, Hakim en Jordaan, asook duowerke vir twee orrels van Soler en Gigout.
Vir die geleentheid word Jordaan se vervoerbare digitale huisorrel saam met Moedergemeente se 1879 Hill-orrel gebruik.
Daniël Nel het na sy BMus Hons in Engeland orrel gestudeer met 'n lisensiaat-beurs van Royal Schools wat hy gewen het. Hy was ook wenner van die nasionale Bloemfontein orrelkompetisie. Hy tree gereeld in die buiteland op en is een van ons land se voorste orreliste.
Gerrit Jordaan is welbekend as orrelis van die Moedergemeente, George. Hy het as bestuurslid van die Sakov (Suider-Afrikaanse kerk- en konsertorrelistevereniging) baie gedoen vir orrelmusiek in die land, soos die versamel en uitgee van Suid-Afrikaanse koraalvoorspele, die eerste uitvoering van verskeie nuwe Suid-Afrikaanse orrelkonsertwerke, die opstel van 'n sillabus vir kerkorreliste en die verwerking van Afrikaanse kerkmusiek vir Vonkk (Voortgesette Ontwikkeling van Nuwe Klassieke Kerkmusiek).
Die konsert vind plaas van 13:10 tot 14:00.
Toegang is gratis, maar donasies word met dankbaarheid aanvaar.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'