GEORGE NUUS - Terwyl bendebedrywighede, geslagsge-baseerde geweld en dwelms die jeug se lewens steel en verwoes, is daar 'n 24-jarige man van Maraiskamp wat terugbaklei - met 'n dominostel en 'n groot hart.
Jadrian Booysen, jeugleier van Youth of Hope Maraiskamp, het Vrydagaand bewys dat jy nie 'n groot begroting nodig het om 'n groot verskil te maak nie. Sy eerste dominokompetisie het sowat 35 jongmense van Maraiskamp en Parkdene van die strate af gehou - en hulle vir 'n paar uur laat lag, ontspan en daardie gevoel van "ek behoort" gegee.
"Die idee is eenvoudig," sê Booysen. "As hulle hier by my is, byvoorbeeld met 'n domino in die hand, dan is hulle nie daar buite met verkeerde dinge of 'n mes deurmekaar nie. Ons hou hande besig sodat die duiwel nie koppe besig hou nie."
Daar was geen prysgeld nie - net respek, die reg om te spog en 'n veilige plek om Vrydagaand te wees.
Dora Blaauw van Team Strong Women, wat die aand ondersteun het, vertel: "Jy moes die opgewondenheid op hulle gesigte sien. Skielik was dit nie bende teen bende nie. Dit was tafel teen tafel. Dit was broers en susters."
'n Leier met 'n las
Booysen ken die strate. Hy het vriende aan bendegeweld en middelmisbruik verloor. "Ek was kwaad. Toe besluit ek: Ek kan nie almal red nie, maar ek kan 'n tafel oopmaak."
Sy visie vir Youth of Hope is groter as domino's: vaardigheidsontwikkeling, huiswerkklasse, sport en leersame jeugkampe.
Maar visie kort brandstof. Sê Linda Smit van Team Strong Women: "Jadrian het die hart en die planne. Wat hy nou nodig het, is ons - ons as gemeenskap. Om te dink ek beskou myself as die dominokoningin, en toe boul daardie kinders my uit vir 'n duck," lag sy.
Die wenners van die aand was:
1ste plek - Monique Ruiters en Mi-Nushkia Corrigan
2de plek - Rasehida Chinaya en Waynique Campher
3de plek - Bonique Campher en Clearo Solomons
Die organiseerders was Caleb van Wyk, Mose Blou en Josua Tieties.
Agter van links is Jadrian Booysen, Linda Smit, Caleb van Wyk, Dora Blaauw en Josua Tieties. Voor sit die wenners, van links: Rasehida Chinaya en Waynique Campher (2de), Monique Ruiters en Mi-Nushkia Corrigan (1ste) en Bonique Campher en Clearo Solomons (3de). Heel regs is klein Merley Gelderbloem. Foto verskaf
Hoe jy kan help
Daar is 'n behoefte aan koeldrank, tee, koffie, beskuitjies, toebroodjies, vrugte, pryse vir wenners, borgskappe vir T-hemde, asook finansiële bydraes vir jeugkampe en vervoer.
Booysen sê: "Ons kla altyd die jeug is verlore, maar kyk wat gebeur as jy vir hulle 'n tafel gee. Hulle daag op. Hulle wil net iemand hê wat hulle raaksien."
Die volgende dominokompetisie word reeds beplan. Die woord versprei, die tafels raak te min - en die hoop raak meer.
Mense wat betrokke wil raak, kan Jadrian Booysen kontak by 065 534 9213 of [email protected], Dora Blaauw by 063 583 7994 of Linda Smit by 078 180 5909.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’