GARDEN ROUTE NEWS - Terwyl die derde skoolkwartaal weer amper afskop, keer SWD se beste o. 18-rugbyspelers terug na hul onderskeie skole met waardevolle ervaring en die wete dat hulle hul man teen van Suid-Afrika se sterkste rugbyprovinsies kon staan.
Hoewel die Cravenweek-span slegs een oorwinning uit drie wedstryde kon behaal, het die Arende in elke wedstryd gewys dat hulle oor die talent beskik om met die land se elite saam te speel.
Intussen het die Akademieweek-span hul veldtog op ’n hoogtepunt afgesluit, terwyl die SWD o. 18-meisies net een nederlaag gedurende hul toernooi gely het.
Cravenweek eindig met oortuigende derbyoorwinning
Na nederlae teen die Haaie en Vrystaat het SWD hul week op die beste moontlike wyse afgesluit, met ’n indrukwekkende 41 - 19-oorwinning oor Oostelike Provinsie (OP).
Die wedstryd het egter nie volgens plan begin nie. SWD moes gedwonge posisionele veranderings maak weens beserings wat vroeër in die week opgedoen is. OP het die geleentheid benut en reeds binne die eerste vyf minute die eerste drie gedruk om met 7 - 0 voor te loop.
’n Paar vroeë foute het SWD aanvanklik onder druk geplaas, maar toe die voorspelers hul ritme vind, het die wedstryd se momentum heeltemal verander.
Die SWD-skrum en voorspelers het OP by die vaste fasette begin oorheers en is met ’n strafdrie beloon om die telling gelyk te maak. ’n Geel kaart vir OP het verdere druk geskep.
Darnell Delport het in die hoek gaan afrond voordat Bronwin Swiegelaar met ’n uitstekende individuele poging van naby die middellyn af oorgestorm het om SWD verder te laat voorloop.
Net voor rustyd het die voorspelers weer hul stempel afgedruk toe Andreas Gouws uit ’n sterk dryfmaal gaan druk. Tylor Marais se doelskop het SWD met ’n gemaklike 24 - 7-voorsprong kleedkamer toe gestuur.
Nog ’n hoogtepunt was Caleb Williams, wat normaalweg losskakel speel, maar met sy uitstekende taktiese skopwerk uit die skrumskakelposisie het hy die wedstryd uitstekend beheer.
In die tweede helfte het min verander.
Swiegelaar het sy tweede drie van die oggend aangeteken, terwyl die SWD-skrum steeds strafskop ná strafskop afgedwing het.
Keaton Olivier (Chunks) het onder die pale gaan druk voordat Nathan-Lee Gordon waarskynlik een van die mooiste drieë van die toernooi afgerond het. Nadat Ruan Groenewald op SWD se eie doellyn ’n deurslaggewende omkeerbal gewen het, het die bal vinnig deur die hande beweeg voordat Gordon met individuele briljantheid die laaste verdedigers geklop het.
Twee laat drieë deur OP het die telling meer aanvaarbaar gemaak, maar SWD was die beter span en het verdienstelik met 41 - 19 gewen.
Akademiespan sluit sterk af
Die SWD Akademieweek-span het hul uitstekende week bekroon deur die Leeus in hul laaste wedstryd met 34 - 29 te klop.
Die span het deur die week aanvallende rugby gespeel en verskeie indrukwekkende oorwinnings behaal. Die sukses bevestig die diepte van SWD se talent en wys dat daar belowende spelers gereed is om die volgende tree in hul rugbyloopbane te neem.
Meisies wys groot potensiaal
Die SWD o. 18-meisies het ook hul merk gemaak.
Ná ’n uitstekende openingswedstryd waarin hulle met 44 - 5 gewen het, het hulle deur die week sterk meegeding en uiteindelik net een nederlaag gely toe die Blou Bulle hulle met 22 - 5 geklop het.
Die groep het bewys dat SWD se meisiesrugby steeds vinnig ontwikkel en dat die unie oor spelers beskik wat op nasionale vlak kan meeding.
Met die nasionale rugbyweke nou afgehandel, verskuif die fokus weer na die skolekompetisies, waar hierdie jong spelers hul ontwikkeling gedurende die derde kwartaal sal voortsit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’