RUGBY NUUS - Clyde Lewis (24), voormalige speler van Blanco-rugbyklub en SWD Arende is nou amptelik deel van die Luiperds en gaan sy 2025-rugbyseisoen vanuit Potchefstroom speel.
Hy het van 2019 tot 2020 vir die Junior Blou Bulle gespeel en tussen 2019 en 2022 vir die Universiteit van Pretoria, waar hy deel van die Universiteitsbeker-wenspanne in 2021 en 2022 was. In 2023 het hy na George verhuis.
Alhoewel Lewis reeds in 2023 by die SWD Arende aangesluit het was dit net vir twee oefenwedstryde en in 2024 speel hy amptelik vir die Arende in die Curriebeker Eerste Divisie.
Hy speel hoofsaaklik heelagter en vleuel vir hulle en een van sy hoogtepunte in die toernooi was juis toe hy sy eerste drie vir die seisoen teen die Luiperds gedruk het.
Na die Arende speel hy vir Blanco klubrugby in die SWD Superliga Top-8-reeks hoofsaaklik as losskakel, maar word ook as heelagter ingespan. Hulle het in die halfeindstryd teen Groot-Brakrivier verloor.
Manne soos Zane Kirchner, Hentzwill Pedro en Christo du Plessis was van sy inspirasies by die klub.
Sy kontrak met die Arende het in Junie 2024 geëindig en ná die rugbyseisoen (klub en unie) het hy by Hoërskool Parkdene begin werk terwyl hy sy finale jaar van onderwys voltooi.
Clyde Lewis wat vir Blanco-rugbyklub en die SWD Arende gespeel het is nou by die Luiperds in Potchefstroom. Foto: SAB Photography
"Enkele weke later het ek 'n aanbod van die Luiperds ontvang.
Op daardie stadium was ek nog besig om opsies vir oorsese rugby te ondersoek. Ek het die geleentheid met albei hande aangegryp," sê hy.
Lewis sê hy sien uit om onder 'n ervare afrigter soos Matt Proudfoot (hulpafrigter vir die Bokke tydens die 2019 wêreldbeker), te speel en dit was vir hom 'n "logiese en opwindende keuse" om na die Luiperds te skuif.
"Ek sien baie uit na volgende jaar se rugby en die afrigter het die afgelope week reeds baie vertroue in my geplaas. Ek kan sien ons gaan 'n lang pad stap," sê Lewis.
Hy sê dat alhoewel rugby 'n geleentheid is om homself op die veld uit te leef, speel hy nie net om dit te geniet nie.
Hy hoop om die Luiperds as 'n trapklip te gebruik na groter geleenthede om sy langtermyndroom om oorsee te speel te bewaarheid.
"My droom is nog altyd om oorsee te gaan. Ek wil net my rugby geniet en intussen wag ek vir daai geleentheid om te kom," sê Lewis.
Vir Blanco sal hy altyd lief bly en buite die rugbyseisoen gaan hy beslis in George kom kuier. "My lojaliteit sal altyd by Blanco bly omdat ek daar grootgeword het," sê hy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’