GEORGE SPORT - Die talentvolle plaaslike rugbyspeler Rosco Syster (26), het verlede Saterdag, 9 Mei, sy 50ste wedstryd vir die Dotsure SWD Arende met ’n uitstekende vertoning in ’n oortuigende 69 - 19 oorwinning oor die Luiperds, gevier.
Die Arende, onder leiding van die voormalige Springbokafrigter Heyneke Meyer, het van meet af aan die pas aangegee en met fisieke dryfkrag voorlangs en skerp agterlynspel die Luiperds behoorlik op die agtervoet gedwing.
In ’n onderhoud met George Herald oor sy mylpaal van 50 wedstryde, sê Syster: “Dit was baie spesiaal vir my. Toe ek in 2022 vir die eerste keer die Arende-trui aangetrek het, sou ek nooit kon dink dat ek so vinnig 50 wedstryde sou bereik nie."
"Dit beteken baie vir my en ek is dankbaar vir elke geleentheid wat ek gekry het. Ek dink wat dit nóg meer besonders maak, is dat ek ’n plaaslike speler is. Vir enige speler is dit sekerlik ’n groot voorreg om 50 wedstryde vir sy eie provinsie te speel. Die oorwinning oor die Luiperds was net die kersie op die koek.”
Oor sy tevredenheid met sy spel sê hy dat daar nog baie ruimte vir verbetering is. “Ek is nog nie heeltemal waar ek wil wees nie, maar ek werk hard om daar uit te kom.”
“Dit is altyd ’n groot voorreg om onder ’n afrigter van Heyneke Meyer se kaliber te speel. Hy plaas baie klem op die kultuur van die span en leer ons voortdurend om nederig te bly, maak nie saak wat ons bereik nie.”
Rosco Syster was eerste uit die tonnel vir die 50ste wedstryd vir die SWD Arende. Foto: George Rautenbach
Op ’n vraag oor hoe hy voel daaroor dat die span nie vir die Premierafdeling gekwalifiseer het nie, antwoord hy dat dit ’n bitter pil is om te sluk. “Ek dink dit was vir almal moeilik om te aanvaar dat ons nie vir die Premierafdeling van die Curriebeker gekwalifiseer het nie, veral ná al die harde werk wat ons ingesit het.
"Dit was beslis ’n bitter pil om te sluk, maar ons werk is nog nie klaar nie. Ons het nou die geleentheid om onsself trots te maak deur die eerste divisie te wen.”
Syster, wat sy stempel reeds by plaaslike klubs Evergreens en Progress afgedruk het, het in 2022 vir die eerste keer die Arende-trui met trots oor sy kop getrek en bly een van die mees opwindende spelbrekers wat die SWD Arende nog opgelewer het.
SWD Arende was eenvoudig te sterk
Janus Venter het vroeg die toon aangegee met ’n drie in die sewende minuut, waarna Ulrich Wahl vinnig gevolg het. Hoewel die Luiperds deur Ghudian van Reenen en later Sinothando ‘Sino’ Tshontyi punte aangeteken het, was die tuisspan eenvoudig te sterk.
HD Stemmet, Rosco Syster en Tiaan Fourie het almal voor rustyd gaan druk om die Arende stewig in beheer te plaas.
Die tweede helfte het aan die Arende behoort. Venter het sy tweede drie gaan druk, Wahl het ’n briljante driekuns voltooi en die Arende het die wedstryd met tempo, fisiekheid en selfvertroue oorheers. Tiaan Drotskie, Kyle Cyster en Nico Leonard het later ook hul name op die telbord gekry toe die tuisspan die wedstryd in styl afsluit.
Hoewel die Arende nie daarin kon slaag om vir die Curriebeker Premierafdeling te kwalifiseer nie, bly die span vasberade om hul merk in die eerste divisie te maak. Die kompetisie skop op 13 Junie af.
BLITSVRAE AAN SYSTER:
Wie is jou grootste ondersteuners?
“My grootste ondersteuners was nog altyd my ma en pa. Al is my ma nie meer hier nie, glo en vertrou ek dat ek haar steeds trots maak.”
Wat motiveer jou op dae wanneer dinge nie op die veld volgens plan verloop nie?
“Ek dink my grootste motivering is die feit dat ek steeds die geleentheid het om die sport te beoefen waarvoor ek lief is. Dit hou my aan die gang, selfs op moeilike dae.”
As jy nie rugby gespeel het nie, wat dink jy sou jy vandag gedoen het?
“Dis ’n goeie vraag. Ek dink ek sou waarskynlik ’n brandweerman geword het, want dit was van kleins af iets wat ek altyd wou doen.”
Vorige artikels:
- Groot wen, en hartseer vir Arende in George
- Dotsure SWD Arende het wegholoorwinning teen Luiperds
- Beslissende wedstryd wag op SWD Arende
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’