GEORGE SPORT - Dit was ’n middag van trots én teleurstelling op Outeniquapark.
Die Dotsure SWD Arende het die Luiperde Saterdag 9 Mei met ’n verwoestende 69 - 19 afgeransel en 11 drieë gedruk in een van hulle beste vertonings van die seisoen, maar selfs dít was nie genoeg om hul plek in die Curriebeker Premier-afdeling te verseker nie.
Terwyl die SWD-ondersteuners die een drie ná die ander gevier het, het nuus vanuit Wellington bevestig dat die Boland Kavaliers die OP Olifante met 85 - 29 geklop het, ’n uitslag wat die Arende se droom finaal beëindig het.
Die Dotsure SWD Arende het egter soos ’n span gespeel wat geweier het om sonder ’n geveg uit te stap.
Janus Venter het vroeg die toon aangegee met ’n drie in die sewende minuut, waarna Ulrich Wahl vinnig gevolg het. Hoewel die Luiperde deur Ghudian van Reenen en later Sinothando Tshontyi (Sino) punte aangeteken het, was die tuisspan eenvoudig te sterk.
Aksie op die veld.
HD Stemmet, Rosco Syster, in sy 50ste wedstryd vir SWD, en Tiaan Fourie het almal voor rustyd gaan druk om die Arende stewig in beheer te plaas.
Die tweede helfte het aan die Dotsure SWD Arende behoort.
Venter het sy tweede drie gaan druk, Wahl het ’n briljante driekuns voltooi en die Arende het die wedstryd met tempo, fisiekheid en selfvertroue oorheers. Tiaan Drotskie, Kyle Cyster en Nico Leonard het later ook hul name op die telbord gekry toe die tuisspan die wedstryd in styl afsluit.
Hoewel die Premier-afdeling nou buite bereik is, kan SWD met trots terugkyk op ’n SA Bekerreeks waarin hulle die respek van Suid-Afrikaanse rugby gewen het.
Met die voormalige Springbokafrigter, Heyneke Meyer, aan die stuur het die Arende nuwe geloof en rigting gevind, iets wat duidelik sigbaar was in die manier waarop hulle tot die laaste ronde bly veg het.
Die Curriebeker se eerste divisie wag nou, maar in George voel dit asof hierdie span nog net begin bou aan iets besonders.
Wat 'n ongelooflike aksiefoto!
Outeniquapark, George
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’