GEORGE ROLBALNUUS - Die skote het van Maandag af begin klap toe nasionale rolbalspanne van die SA magte en 'n internasionale uitnodigingspan mekaar die stryd by die Outeniqua-rolbalklub aangesê het.
Dit is die eerste keer dat so 'n week lange toernooi aangebied word en dit bied die geleentheid aan topspelers van die SA Lugmag, Korrektiewe Dienste en SA Polisiediens die geleentheid om mekaar op die baan aan te vat asook teen 'n internasionale President Uitnodigingspan te kompeteer.
Die toernooi is Sondag op luisterryke wyse amptelik geopen toe die bane vir die duur van die week deur die president van Outeniqua-rolbalklub, Bennie van Loggerenberg, aan die besoekers oorhandig is. Die SA Magte asook nasionale vlag is amptelik gehys wat deur die loop van die toernooi by die klub sal wapper.
Raadslid Dirk Wessels het die eerste bal namens die uitvoerende burgemeester van George gerol en die wenkbroue laat lig toe sy bal in die kol was en die wit balletjie, wat die teiken was, geraak het. Jenny Sinclair, president van Eden-rolbal en visepresident van Rolbal Suid-Afrika, het ook die geleentheid bygewoon.
Die toernooi is afgeskop met die pare-wedstryde wat Maandag en Dinsdag afgehandel is. Woensdag en vandag (Donderdag) word die enkelspelle gespeel en Vrydag en Saterdag volg die vierspel-wedstryde met die prysuitdeling en afsluiting wat Saterdagmiddag volg.
Belangstellendes is welkom om die wedstryde gratis by te woon.
Die rolbalspanne staan in gelid op die Outeniqua-rolbalbaan terwyl die toernooi amptelik geopen word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'