ROLBAL NUUS - Nie eers die stormsterk winde en ontwrigtende reën kon die week die geesdrif demp tydens die 2024 Personal Trust Ladies+ Men's All Cape Tournament nie. Die dames gedeelte van die toernooi het Sondag 7 April begin.
Die openingseremonie het plaasgevind by die George-rolbalklub en is waargeneem deur Erika Brown, lid van die George-stadsraad.
Die toernooi word by verskeie bane in die streek beslis waaronder Knysna, Plettenbergbaai, Oudtshoorn en Hartenbos.
Sowat 500 vrouerolbalspelers vanoor die Wes-Kaap en selfs plekke soos Sishen, Beaufort-Wes en Johannesburg neem aan die toernooi deel.
Dit bereik Saterdag 13 April 'n hoogtepunt wanneer die finale wedstryde plaasvind. Spel begin reeds om 09:00. Net soos op die ander dae is toeskouers welkom en toegang is gratis.
Die mans gedeelte van die toernooi begin Sondag 14 April en na verwagting sal meer as 700 mans daaraan deelneem.
Die toernooi is 'n spankompetisie en van die grootste rolbalgeleenthede in die Wes-Kaap.
Jenny Sinclair, koördineerder van die toernooi, het Maandag gesê ten minste 80% van die deelnemers is besoekende spelers. Die jongste speler is 12 jaar oud en van die oudste spelers is in hul 80's.
Volgens haar is drie pryse op die spel: The Championship, (eerste), The Plate (tweede) en The Bowl (derde).
Dis nie die eerste keer dat die toernooi in die streek plaasvind nie. In die verlede is dit onder meer in 2005, 2009, 2013 en 2017 hier aangebied.
Volgens Sinclair beteken dit baie vir rolbal in Eden en gee 'n geleentheid vir deelnemers om hulself teen die beste te meet. Dit het ook ekonomiese voordele vir die streek.
Nieteenstaande die reën, is daar 'n baie goeie gemoedstoestand onder die deelnemers en die standaard van rolbal is hoog.
As dit reën, is alternatiewe planne in plek.
Jenny Sinclair, koördineerder van die toernooi, Dinsdag by een van die bane van die George-rolbalklub wat onder water was. Foto: Eugene Gunning
Dinsdag is spel juis regoor die streek uitgestel. Volgens Sinclair is die toernooi later voortgesit.
Die bane van die George-rolbalklub was Dinsdag onder water. Foto: Eugene Gunning
Esme Kruger, 'n Proteaspeler, het gesê as na al die toernooie oor die land gekyk word, is dié een die grootste gesien uit die oogpunt van 'n vierbal. Volgens haar is die standaard by die toernooi hoof en is daar 'n paar sterk spanne van die Kaap en ook Eden. Sy neem aan die toernooi deel onder die vaandel van Mosselbaai-klub.
Esme Kruger, 'n Proteaspeler wat ook die toernooi bywoon.
"Dis in die algemeen stywe kompetisie en jy moet gefokus bly."
Die reën het hulle redelik gepootjie. Dit doen egter beslis nie afbreek aan die gees van die toernooi nie. Sy verstaan dat Dinsdag se spel uitgestel moes word want die bane was nie speelbaar nie. As voortgegaan is met spel, kon dit skade aan die bane veroorsaak het.
Sy het 'n beroep op mense gedoen om die toernooi by te woon.
Karen Redman van Constantia in Kaapstad was Dinsdag gereed om te speel op die bane van die George-rolbalklub. Spel kon egter nie plaasvind nie omdat die bane as gevolg van die reën onder water was. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’