Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die opgewonde gesigte van leerlinge van Heatherlands High het verlede Donderdag, 3 Maart, alles vertel toe twee potspeltafels, stokke en balle deur Pool4Change aan die skool oorhandig is.
Die doel is om potspelontwikkeling onder die jeug in die streek te bevorder.
Benewens leerlinge is die geleentheid ook deur verskeie ampsdraers bygewoon.
Onder hulle was Chris Pyler (St. Mary's skool), Suzelle van der Merwe (Eden Cue Sport, Wes-Kaap Cue Sport, South African Blackball federasie sekretaresse en South African Confederation of Cue Sports (SACCS)-raadslid), Salomo Moses (skoolhoof van Heatherlands High), Galiek Saville (voorsitter van Pool4change en SACCS-ontwikkelingsbeampte), Adam Buys (Wes-Kaapse onderwysdepartement), Malcolm Pojie (voorsitter Eden Cue Sport), Yusuf Attwood (visevoorsitter Pool4Change en SACCS-raadslid) en Deon Floris (Eden Cue Sport-bestuurskomiteelid).
Tydens die geleentheid is gewys op die voordele van potspel. So leer dit byvoorbeeld deelnemers om te konsentreer en dit is 'n vaardigheid wat goed in die klaskamer aangewend kan word. Nadat die tafels oorhandig is en die formaliteite afgehandel is, het leerlinge die geleentheid gehad om vinnig te speel, voordat hulle moes terugkeer klaskamers toe.
Yusuf Attwood, visevoorsitter van Pool4change, het aan George Herald gesê dit bring die sport na skole. Leerlinge hoef dit nie meer by openbare plekke soos tavernes te speel waar dit gevaarlik kan wees nie.
Die organisasie is betrokke by sowat 80 skole in Gauteng, sowat 30 skole in die Oos-Kaap en sowat 180 skole in die Wes-Kaap. Dit is die eerste keer dat sulke tafels in George aan 'n skool oorhandig is. Volgens hom is Pool4change geaffilieer by die Suid-Afrikaanse sportkonfederasie.
Die spel neem toe in gewildheid onder die jeug en deelnemers kan nasionale kleure in die sport verwerf. Saskok het ook onlangs aangedui dat dit die vinnig groeiendste sport in SA skole is.
Malcolm Pojie, voorsitter van Eden Cue Sport, het gesê plaaslik is dit baie gewild onder die jeug. Volgens hom is dit nie 'n moeilike sport nie. As jy kan mik en skiet behoort jy reg te kom. Hy het egter benadruk deelnemers moet beslis ook oor vaardighede soos hand- en oogkoördinasie beskik en liggaamsposisie is belangrik. Afhangende van die vaardighede van spelers kan 'n pot net 'n paar minute aanhou of aansienlik langer. Dis 'n spel vir oud en jonk en vir alle geslagte. Mense met gestremdhede kan ook deelneem.
Vir meer besonderhede kontak Leroy Swart by 073 338 0453 of Deon Floris by 082 742 5383.
VIDEO: Potspelontwikkeling by Heatherlands High:
Malcolm Pojie, voorsitter Eden Cue Sport, en Adam Buys van die Wes-Kaapse departement van onderwys tydens die geleentheid.
Malcolm Pojie, voorsitter Eden Cue Sport, aan die woord.
Galiek Saville, voorsitter van Pool4Change en SACCS-ontwikkelingsbeampte en Malcolm Pojie, voorsitter Eden Cue Sport. Fotos: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'