GEORGE ROLBALNUUS - Outeniqua-rolbalklub het behoorlik amok gemaak in die 2019 Eden vierspel kampioenskap deur goud, silwer en brons in die mansafdeling in te palm en goud in die damesafdeling te buit.
Die kampioenskap is oor die afgelope drie weke op verskeie bane in die streek gespeel, met die uitspeelstryde by die George Rolbalklub. Spanne vanoor die hele Eden-streek het vir die baie kompeterende kompetisie ingeskryf.
In die eindstryd van die mans-vierspel het die Outeniqua-spanne van Bennie van Loggerenberg en John Young (jr) teen mekaar te staan gekom met Van Loggerenberg se span wat uiteindelik koning gekraai het. Sy spanlede was Tom Strydom, Pierre Stander en George Fick, en Young se span was Tiaan Tredoux, Wayne Ridden en Terrence Wilson.
John Dampier se span, wat brons gebuit het, het uit Das Barnard, Greg Young en Kurt Steyn bestaan.
Nan Roos se span wat Arlede Bosse van Knysna se span in die eindstryd geklop het, het uit Gillian Young, Anri Fick en Susan Meyer bestaan. Bosse se spanlede was Jeanette Botha, Jenny Raymond en Marion Ward.
Wendy Murray se span het uit Jenny Sinclair, Martie Pringle en Petro Breedt bestaan.
Intussen het die Outeniqua-span van Alhan van der Merwe met Basil Steyn en Kobus Heymans die Twilight Trip op Hartenbos gewen en 20 uit 'n moontlike 21 punte behaal.
Die Eden vierspel-kampioene van Outeniqua-rolbalklub saam met Wendy Murray wat die trofeë oorhandig het. Van links is Tom Strydom, Bennie van Loggerenberg, Pierre Stander en George Fick.
George Rolbalklub se span wat brons in die dames vierspel-kampioenskap gebuit het, is van links: Wendy Murray, Jenny Sinclair, Martie Pringle en Petro Breedt.
Die naaswenners van die Eden vierspel-kampioenskap saam met Wendy Murray. Van links staan Tiaan Tredoux, Terrence Wilson, Wayne Ridden en John Young.
John Dampier (links) en sy Outeniqua Rolkalklub-span wat brons in die Eden vierspel-kampioenskap ontvang het. Die spanlede is Das Barnard, Greg Young en Kurt Steyn.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'