ROLBAL NUUS - As 144 van die beste klubrolbalspelers in Suid-Afrika jou driedaagse toernooi ondersteun, spreek dit boekdele oor die gewildheid, maar bowenal die belangrikheid, daarvan.
Juis daarom kan die Outeniqua Classic-rolbaltoernooi, wat jaarliks by die Outeniqua-klub hier aangebied word, aanspraak maak daarop dat dit homself as een van die topklubtoernooie in Suid-Afrika gevestig het.
Met prysgeld van R60 000 op die spel is die gewildheid van die toernooi sekerlik te verstane.
Dit was natuurlik ook 'n groot aansporing vir die 36 spanne uit alle uithoeke van die land om uithalerspel te lewer.
Marie Fourie wys haar stylvolle aksie.
Maar dit was plaaslike kennis wat die George-span van Billy Radlof, Prof Stadler, Zakes Zalemane en Peter Hufkie hul neus voor laat kry het om met die wenprys van R20 000 weg te stap.
Die oorblywende R40 000 het, in dalende waarde, aan die vyf ander topspanne gegaan. Maar nie een van die 144 spelers wat deelgeneem het, is Sondag met leë hande daar weg nie.
Daarvoor het die hoofborg, die KWV, en die klub se rojale president, Greg Young, seker gemaak.
Die spelers kon nie uitgepraat raak oor die gehalte van die rolbalperke nie en het dit beskryf as op dieselfde vlak en gehalte as die bestes in die land.
Die 144 rolblspelers van 36 klubs dwarsoor Suid-Afrika wat van verlede Vrydag af aan die Outeniqua Classic-toernooi deelgeneem het. Foto's: Deidre Cloete
Hou links en gaan regs verby, beduie Imeil Breddel.
Die wenners van die driedaagse Outeniqua Classic-rolbaltoernooi wat van verlede Vrydag af in George by die Outeniqua-rolbalklub aangebied is. Van links: Peter Hufkie, Prof. Stadler, Zakes Zalemane, Greg Young (president), Billy Radloff en Emile Breddel (KWV).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'