Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Georgiet Tristan Nortje (20) is die nuwe nasionale o.23 XCO-bergfiets-kampioen nadat hy op 25 September die SA kampioenskap vir Cross Country (XCO) by die Cascades in Pietermaritzburg gewen het.
Nortje ry vir die Imbuko/Giant-span en gaan eerskomende Sondag, 17 Oktober, sy eerste Absa Cape Epic saam met Wessel Botha, die vorige o.23-kampioen, aanpak.
Nortje word afgerig deur die bekende John Wakefield, die hoofafrigter van die internasionale fietsryspan UAE Team.
"Tristan het kliphard gewerk vir hierdie titel. Ons is ongelooflik trots op hom," het sy pa, Pieter Nortje, gesê. "Toe ek sien hy is voor, en niemand gaan hom vang nie … dit was rou emosie."
Nortje senior beskryf sy seun as 'n uiters toegewyde sportman wat slaafs by sy program bly. "Mense vergeet soms hoe hard fietsryers moet werk vir hul sukses. Tristan is absoluut mal oor fietsry. Om 'n pro-fietsryer te wees, is baie intens. Dis seker een van die hardste werke wat daar is. Tristan se leuse is: Never give up."
Hierdie jong fietsryer is in 2019 as Suid-Afrika se Junior XCM (marathon)-kampioen bekroon. Hy het ook Suid-Afrika as junior in dieselfde jaar by die XCO wêreldkampioenskap in Mont-Saint-Anne, in Kanada, verteenwoordig.
Verskafde video:
Niël Zietsman, ouer van die jong fietsryer Lincoln Zietsman (12) wat 'n tweede plek in die Sprog-kategorie by die kampioenskap in Pietermaritzburg verower het, beskryf dit as 'n voorreg om Nortjie op die boonste trappie van die podium te kon sien.
"Ons is bitter trots op hom, nie net vir wie hy op 'n fiets is nie, maar die mens wat hy is. Hy is 'n rolmodel vir ons seun Lincoln.
"Tristan het 'n baie besige oefenprogram, maar maak steeds tyd om so nou en dan saam met Lincoln in die bos te gaan ry en van sy kennis te deel. Ons sien groot dinge wat wag vir die twee seuns van Eden."
Die Kapenaar Tristan McGiven het vanjaar die Sprogs-kategorie by die SA kampioenskappe gewen.
Lincoln Zietsman (11, links), naaswenneer in die Sprog-afdeling, saam met sy fietsryheld Tristan Nortje.
Oor die wenstreep! Tristan Nortje (20) is die nuwe nasionale XCO-bergfiets-kampioen.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'