SPORTNUUS - Die 21-jarige Tristan Nortje van George is weereens die o.23-wenner van die SA kampioenskap vir Cross Country (XCO).
Verlede jaar het Nortje koning gekraai by die Cascades in Pietermaritzburg, en Saterdag 2 Julie het hy sy kroon behou tydens die wedren in Bloemfontein.
Nortje trap vir die span Toyota Specialized, wat reeds 'n week voor die kampioenskap tyd in Clarens spandeer het om by die lugdruk aan te pas. Die terrein in Bloemfontein verskil ook aansienlik van hul tuisoefenterreine in die Wes-Kaap.
Nortje herstel steeds van 'n skouerbesering wat hy in April in Windhoek tydens 'n val opgedoen het. Hy het Suid-Afrika in Windhoek verteenwoordig by die Afrika-kampioenskappe. "Hy moes 'n operasie kry, maar ons het daarteen besluit en hy het net goeie rehabilitasie gedoen," het sy pa, Pieter Nortje, vertel.
Op die wedrendag het Nortje sy Specialized S-Works Epic-bergfiets vir die Bloemfontein-baan gekies, met 'n Fast Track-band voor en 'n Renegade agter. "Ek is baie dankbaar om 'n ervare ruiter soos Matt Beers in die span te hê. Hy het my selfvertroue 'n massiewe hupstoot gegee en het my voorbereiding vir hierdie geleentheid aansienlik beïnvloed. Tyrone Jeffries en JP Lloyd het verseker dat ons fietse op wedrendag in die beste moontlike meganiese toestand was," het Nortje gesê.
Hy bedank Toyota Specialized en almal van die Suid-Kaap wat hom tydens die ren ondersteun het.
Nortje beplan om vir twee en 'n half maande, van Augustus tot middel Oktober, in Europa deur te bring. Hy gaan deelneem aan die Wêreldkampioenskap XCO in Frankryk en Marathonwêreldkampioenskap in Denemark. Verder gaan Nortje ook in Oostenryk en Switzerland bergfiets ry.
Nasionale o.23-bergfietskampioen, Tristan Nortje. Foto: Iflair Photography
Tristan Nortje in aksie tydens die nasionale kampioenskappe in Bloemfontein. Foto: Hannes Naude
Tristan Nortje. Foto: Mienke Boshoff
Tristan Nortje Foto: Hannes Naude
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'