Video
SWEMNUUS EN VIDEO - Net mooi 'n maand voordat die swemmer Minke Janse van Rensburg (18) op 1 September na Italië vertrek om aan die Europese downsindroom-swemkampioenskap deel te neem, palm sy haar vyfde wêreldrekord in.
Sy het verlede Saterdag, 29 Julie, die wêreldrekord van die Spanjaard Camino Martinez (1:17.72) vir 100 m-vryslag in die kortbad (25 m-swembad) by Laerskool Knysna tydens 'n gala van Eden Aquatics met twee honderdstes van 'n sekonde verbeter. Minke se tyd vir die item is 1:17.70.
Die Europese downsindroom-swemkampioenskappe vind elke tweede jaar plaas, en vanjaar word dit van 3 tot 10 September aangebied.
"Ek is versigtig optimisties oor haar kans om goud huis toe te bring," het Minke se pa, Hennie Janse van Rensburg, gesê.
"Soos jy sien is haar tyd net twee honderdstes van 'n sekonde vinniger as Camino s'n, en hulle gaan teen mekaar meeding. Dit is wel waar dat sy beter swem as die kompetisie groter is, so ek glo sy gaan hierdie tyd weer verbeter - of sy wen of nie.
"In die 50 m-vryslag is haar tyd tans meer as 'n sekonde beter as die van haar naaste teenstander. Haar tye inspireer ander en daarom verwag ek dat almal in die finaal nuwe persoonlike beste tye sal swem en daarom sal slegs die tyd leer wie goud gaan ontvang. Sy hou nou die 25 m, 50 m en 100 m downsindroom vryslag-wêreldrekords in die 25 m-swembad, en die 50 m en 100 m downsindroom vryslagwêreldrekords in die 50 m-swembad."
Minke Janse van Rensburg (18) verlede Saterdag tydens Eden Aquatics se gala in Knysna, waar sy 'n wêreldrekord rakelings verbeter het. Foto: Dave Hooper
Swemmer Savanna
Die downsindroomswemmer Savanna Haselau (17) het tydens Eden Aquatics se gala in Knysna persoonlike beste tye vir drie van haar items geswem. Savanna het deelgeneem aan die 50 m-rugslag, 50 m-vryslag en 50 m-borsslag.
"Sy gee alles tydens 'n gala wat wys sy het 'n kompeterende gees. Te oordeel aan hoe vinnig sy verbeter en hoe hard sy werk glo ek sy sal goed vaar by die volgende SASA-II nasionale kampioenskap in Maart volgende jaar," het Janse van Rensburg gesê.
Beide swemmers word afgerig deur Franna Vorster van Garden Route Swimming School.
VIDEO: Nóg 'n wêreldrekord vir Minke
Savanna Haselau (links) saam met 'n oefenmaat, Bella Haldane, wat haar gelukwens met haar persoonlike beste tye.
Vorige artikels:
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’