Update
GEORGE NUUS - Minke Janse van Rensburg (18) is terug in George na 'n besoek aan Swaziland, waarheen sy verlede naweek gevlieg het as een van drie finaliste, suid van die ewenaar, vir die Afrika-Unie Sportraad se sportvrou van die jaar met 'n gestremdheid.
Minke se pa, Hennie Janse van Rensburg, het haar vergesel. "Ofskoon Minke nie die toekenning ontvang het nie, is sy bly vir die wenner wat dit wel ontvang het. Dit was steeds 'n ongelooflike ervaring," het hy gesê.
Die toekenning is gegee vir 'n sportvrou van Namibië, Lijah Ishitile, met 'n siggestremdheid.
Die nominasies vir die Afrika-Unie Sportraad se Regional Annual Sports Awards (Rasa) word deur die nasionale departement van sport, kuns en kultuur deurgegee.
Volgens Janse van Rensburg is Minke genooi om later vanjaar in Italië aan die Europese downsindroom swemkampioenskappe deel te neem.
"Ons wil haar baie graag saam met 'n afrigter stuur en samel tans geld in vir die afrigter wat ons wil saamstuur," het hy gesê.
"Ons het onlangs 'n nie-winsgewende organisasie gestig, Downsindroom Sport Suid-Afrika, wat daarop fokus om vir downsindroom-sportlui 'n kans te gee om internasionaal te kan deelneem."
As enigeen meer inligting benodig kontak gerus vir Janse van Rensburg by 083 326 5019.
Vorige artikel: Minke op pad na Swaziland
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’