Dié ligakompetisie sou deur die Visarend Klub aangebied word by Calitzdorp Dam, maar weens die lae reënval in die streek en die dalende watervlakke, kon daar nie genoeg oewer beskikbaar gemaak word vir dié groeiende sport nie. Die byeenkoms is toe geskuif na Hartebeeskuil Dam waar meer oewer beskikbaar was.
Daar is maar min vis gevang en dit word hoofsaaklik toegeskryf aan die feit dat die vis diep gelê het en dat menige hengelaars moedeloos geraak het vir vassit. Dit het veroorsaak dat selfs A-spanhengelaars met leë hounette by die inweeg opgedaag het.
In die A-afdeling het die span van Kango, wat in hulle nuwe uitrustings gespog het, die voortou geneem in vanjaar se klubkompetisie met 46 punte, gevolg deur Eden (44), Hartebeeskuil (33), Visarend en DKD op 19.
In die B-afdeling het Hartebeeskuil geseëvier met 29 punte gevolg deur Kango op 26 punte.
Die Senior A- en B-span van die Suid-Kaap gaan in die komende week deelneem aan die SA Kampioenskappe wat onder andere by Darlington Dam en Hartebeeskuil Dam gehou gaan word.
Die A-span hoop om vanjaar in ‘n beter posisie te eindig as vorige jare nadat die junior-span dit in Desembermaand reggekry het om algeheel 4de te eindig tydens hulle kampioenskap by die Vaaldam. Dit is tot dusver nog die beste prestasie vir enige span van die Suid-Kaap. Alaine Peo en Rikus Nel het veral goed gedoen en is daarna in SAVOF se ontwikkelingspan opgeneem.
In die tuiswater van Hartebeeskuil Dam gaan die B-span probeer om vanaf 10 tot 12 Maart hulle tuisgrond voordeel optimaal te benut en sodoende moontlik in die medaljes te eindig.
.jpg)
Kango A-span se lede is van links Koos, Grieta en Jaco Nel, Colleen en Kobus le Grange, en Piettera en Robert Ueckermann. Afwesig: Rikus Nel.