GEORGE NUUS - ’n Ma en dogter van Kleinkrantz, Sharon Coetzee en Shané MacDonald, het onlangs ’n nie-winsgewende organisasie, Our Shamar, gestig waardeur hulle uitreik na swanger jong vroue wat ’n krisisswangerskap beleef en ’n aborsie oorweeg, deur vir hulle alternatiewe/keuses te bied.
Our Shamar, wat beteken 'Ons Beskermer', is gebaseer op Christelike beginsels en is ’n uitvloeisel van ’n droom wat Coetzee gehad het.
“Ek glo die droom kom van die Here af en was ’n bevestiging van wat ek al lank in my hart omdra. Daar is baie ma's met hulle rug teen die muur vir wie aborsie na die enigste uitweg lyk weens hul lewensomstandighede wat verhoed dat hulle hul baba self sal kan versorg en grootmaak. Our Shamar wil vir hierdie vroue ’n keuse bied,” sê Coetzee, ’n plaaslike gesondheidswerker.
Daar bestaan tans geen veilige hawe in George wat ’n heenkome bied in sulke omstandighede nie. “Ná my droom het ek gedwing gevoel om iets te doen. Dit was ’n lang pad tot hier waar ons geregistreer is. Aanvanklik het dit gelyk asof ons nie ons pamflette by klinieke sou kon versprei nie, maar daar het bonatuurlik deure begin oopgaan en ons pamflette mag nou by klinieke in George uitgestal word. Ons het reeds reaksie van enkele ma's gekry. Ons gaan stel ons diens ook voor by kerke.”
Our Shamar wil ’n tydelike tuiste bied vir die baba terwyl die ma haar lewe gereed kry om haar baba huis toe te neem.
“Hierdie is ’n tuiste vir die baba van die mamma wat nog op skool is of studeer, tussen werke is, in ’n gewelddadige verhouding is, geen ondersteuning het nie, nie ’n huis het nie, of nie gereed is nie. Ons wil vir sulke mammas ’n kans gee om haar lewe gereed te kry vir haar nuwe baba, of dit nou is om ’n graad te behaal, daardie werk te kry, of uit ’n toksiese omgewing te kom.
"Ons uitgangspunt is egter dat die familie die verkieslike opsie is om na die baba om te sien. Our Shamar is die laaste uitweg.”
Sy sê waar aanneming verkieslik is, kan Our Shamar ook help met die proses deur middel van verwysing na maatskaplike dienste.
Die eerste baba wat Our Shamar ingeneem het wie se ma byna aborsie gekies het weens huislike omstandighede. Foto verskaf
Coetzee dra tans die onkostes van die projek, maar sê hulle het mense wat tans help met die onkostes van die babas. Sy het haar eie huis oopgestel om babas in te neem. Tans is hul maksimum kapasiteit vier babas. Daar is reeds een wat vir aanneming sal gaan en nog ’n baba wat in Our Shamar se sorg is.
“Daar is baie mense wat skepties staan teenoor wat ons doen, wat meen aborsie is verkieslik omdat daar soveel sosiale verval is, maar ek glo die Here voorsien daar waar ’n ma uit haar hart die swangerskap wil deursien en die regte ding wil doen.”
Hulle bied ook ouerleiding aan en berading aan vroue wat reeds ’n aborsie gehad het. Coetzee en MacDonald het beide die Options-sentrum se beradingskursus voltooi.
Kontak Our Shamar by 072 324 3412 of 079 012 8016 of stuur ’n e-pos na ourshamar@gmail.com.
Hul registrasienommer is K2023/545043/08.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’