GEORGE ROLBALNUUS - George-rolbalklub se jeugspanne het die pas afgelope Oudtshoorn-jeugtoernooi oorheers deur beide die o.20- en o.15-afdelings te wen.
Outeniqua-rolbalklub se jeugspan was die naaswenners in die o.20-afdeling.
Meer as 50 jeugspelers het aan die toernooi deelgeneem met driespel-spanne van oor die hele Wes-Kaap (Westelike Provinsie, Wynland, Overberg, Sentraal Karoo en Eden) wat deelgeneem het.
Hierdie toernooi is baie gewild juis omdat selfs jong spelers van o.15 hul eerste blootstelling aan toernooikompetisie daar kry.
Spelers het in driespel-formaat en sterk teen sterk gekompeteer.
Rolbal Suid-Afrika se uitvoerende bestuurslid, Trevor Davis, asook Elma Davis (Protea-rolbalspeler) het onder andere die geleentheid bygewoon en spelers met talent geïdentifiseer vir moontlike uitnodiging na verdere oefengroepe. Hulle het ook die medaljes aan die wenners oorhandig.
Uitslae:
- o.15: 1 George; 2 Beaufort-Wes; 3 Strand.
- o.20: 1 George; 2 Outeniqua; 3 Ceres.
George-rolbalklub se span wat die o.15-afdeling gewen het saam met beamptes afgeneem. Van links is Dave van der Walt (Eden-sportraad), Matthew Marks, Joshua Dumzela, Ehsanul-lee Booysen, Elma Davis (Protea-speler) en Theo van Aswegen (visepresident: Wes-Kaap-rolbal).
Die naaswenners in die o.20-kompetisie van Outeniqua-rolbalklub saam met van die beamptes. Van links: Ian Laubscher (Oudtshoorn-munisipaliteit), Sheldon van Kersen, Gillian Young, Tiaan Mostert, Elma Davis (Protea-speler), Theo van Aswegen (visepresident: Wes-Kaap-rolbal).
George-rolbalklub se wenners van die o.20-toernooi tydens die prysuitdeling afgeneem. Van links verskyn Ian Laubscher (Oudtshoorn-munisipaliteit), Marlin Saaiman, Lee Holin Juries, John Lee Botha, Elma Davis (Protea-speler) en Gertjie Bekker (president: Oudtshoorn-rolbalklub).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'