GEORGE ROLBALNUUS - Eden-rolbal se vlag gaan vanjaar weer hoog in die SA Meestertoernooi van Rolbal SA wapper wanneer ses plaaslike rolbalsterre hul slag gaan wys.
Die twee Protea-spelers Billy Radloff (Outeniqua-rolbalklub) en Elma Davis (George-rolbalklub) het verlede jaar as kampioene uit die stryd getree en gaan van meet af onder druk wees om hul titels te verdedig. Beide spelers gaan binnekort ook Suid-Afrika teen Wallis verteenwoordig en is oorgehaal vir die uitdaging wat in die ope meesters op hulle wag.
Nog 'n lid van die George-rolbalklub, Colleen Piketh, is ook genooi om in die ope toernooi vir dames deel te neem.
Gillian Young, lid van Outeniqua-rolbalklub, is op 17-jarige ouderdom die jongste speler wat in die juniortoernooi in aksie gaan wees. Hierdie leerder van Glenwood House het reeds haar besondere talent op die rolbalbaan in verskeie interprovinsiale toernooie ten toon gestel.
Nog 'n lid van George-rolbalklub, Bronlynn Jumat, is ook genooi om in die juniortoernooi vir dames mee te ding.
Piet Robbertse, van Stilbaai-rolbalklub, is genooi om in die veterane-afdeling vir mans te speel.
Die spelers het vandag (Donderdag) na die toernooi vertrek.
Eden Rolbal se span wat vanjaar genooi is om in die SA Meesters te kompeteer. Van links na regs bo na onder verskyn Billy Radloff, Bronlynn Jumat, Piet Robbertse, Colleen Piketh, Gillian Young en Elma Davis.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'