GEORGE ROLBALNUUS - Eden-rolbal het 'n reuse-aanwins gekry toe die Protea-speler, Thinus Oelofse (38), by die Outeniqua-rolbalklub aangesluit het.
Hy verteenwoordig reeds die afgelope ses jaar Suid-Afrika op die rolbalbaan en word as 'n baie toegewyde en talentvolle jong speler beskou wat nog lank vir die Proteas kan rol.
Behalwe sy prestasies as Protea-speler was hy by geleentheid ook die naaswenner van die SA Meesters-titel. Nog 'n Protea-speler van Eden, Billy Radloff, het die titel in die eindstryd voor hom weggeraap.
Oelofse was 'n lid van die Brakpan Mines-rolbalklub en het pas met sy ouers en gesin na George verhuis waarheen hulle ook hul onderneming, wat indiensopleiding verskaf, verskuif het.
Die rolbalbloed pomp warm in die Oelofses se are. Behalwe Thinus en Amelia speel hul negejarige dogter, Kalien, ook reeds kompeterende rolbal.
Thinus se ouers, Nico en Hannetjie Oelofse, is ook geswore rolbalspelers wat reeds jare lank die spel geniet. Almal is nou lede van die Outeniqua-rolbalklub.
Thinus en Amelia Oelofse met die negejarige Karlien wat ook reeds rolbal speel, voor hulle. Die ander twee spruite is Karla (6) en Klara (2).
Die beskeie Oelofse is geen grootprater nie en dit vat baie om hom oor sy prestasies te laat praat, maar hy praat met sy skitterende balle op die groen baan.
Greg Young, president van die Outeniqua-rolbalklub, is baie ingenome met die klub se nuwe aanwinste.
"Dit is 'n besondere eer vir die klub om die Oelofse-gesin te verwelkom. Thinus sal tot 'n groot mate as inspirasie vir veral die jonger spelers dien en 'n groot bydrae lewer om die spel in die streek te bevorder," het hy gesê.
Thinus en Amelia Oelofse saam met die president van die Outeniqua-rolbalklub, Greg Young.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'