GEORGE ROLBAL-NUUS - Eden-rolbal het hierdie week weer bors uitgestoot nadat drie plaaslike rolbalspelers in die Protea-span ingesluit is wat in Mei teen Wallis te staan kom.
Die drie nuwe Protea-spelers is Billy Radloff (Outeniqua-rolbalklub), Elma Davis en Colleen Piketh (albei George-rolbalklub).
Davis was verlede jaar ook deel van die Proteas wat Suid-Afrika by die Statebondspele verteenwoordig het terwyl Radloff 'n hele paar jaar gelede ook die Proteas verteenwoordig het, maar dit is die eerste keer dat hy sy kleure as lid van Eden-rolbal verwerf het. Hy en Davis het verlede jaar ook vir 'n opskudding gesorg deur die SA meesters-kampioenskap te buit.
Vir Piketh, wat nog 'n relatief jong rolbalspeler is, span haar insluiting in die span die kroon op jare se harde werk om die boonste sport te bereik.
Die nuus van die drie se insluiting het weer bewys dat Eden-rolbal lank nie meer die aspoestertjie van Rolbal SA is nie en by van die sterkste provinsies kan kers vashou.
Hierdie span ook die kroon op die provinsie se volgehoue pogings om die sportsoort in die Eden-distrik te ontwikkel en dien as inspirasie vir 'n groot aantal jong spelers wat begin rol het.
Billy Radloff.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'