Dié 'Active Bowler' is die breinkind van vier Johannesburgse ingenieurs van uiteenlopende dissiplines wat saamgespan het om dié nuwe hulpmiddel te ontwerp. Hulle het 'n soortgelyke masjien, wat oorsee vir bofbalafrigting gebruik word, aangepas en vir krieketafrigting geïntegreer. Dis die eerste van sy soort in Suid-Afrika, maar hulle werk reeds aan 'n meer gevorderde masjien wat later vanjaar bekend gestel gaan word. Dit sal dan met 'n tablet werk waar die 'Active Bowler' nou aan 'n rekenaar gekoppel is.
Dié eerste prototipe het 'n magasyn wat ses balle na mekaar kan afstuur. Die masjien word vooraf geprogrammeer en die bouler wat ingehardloop kom - in dié geval 'n animasie van die snelbouler Fanie de Villiers - kan dus van draai- tot snelballe afstuur. Die vinnigste bal sal die kolwer voor die penne teen 'n raps meer as 140 kpu bereik.
Die hoek waarteen die balle afgestuur word, soos die tipe aflewering, word als deur die rekenaar bepaal. Die ses balle kan in 'n nou groepering na die kolwer afgevuur word. 'n Groot pluspunt is dat kolwers sonder hulp op hul eie teen die masjien kan kolf. Balle word met interval van ses sekondes afgestuur.
Dis uiters realisties en kan kolwers help om hul tegniek, voetwerk en tydsberekening binnenshuis in die nette te slyp.
Die nuwe gevorderde masjien sal 'n mandjie balle na kolwers kan boul.
As jy dus kans sien vir 'n Dale Steyn-opslagbal of 'n swaaibal van Fanie de Villiers, is die Child Active Cricket Academy die plek om jou jou slag te wys. Maar, wees bedag daarop, die snelballe was te vinnig vir die gevorderde kamera van die George Herald se fotograaf.
Blitsig het vinnig 'n nuwe betekenis gekry.
Die Child Active Cricket Academy in George se nuwe gerekenariseerde boulmasjien, die 'Active Bowler', is verlede Vrydag deur die ontwerpinge-nieuer, Werner van Antwerpen (agter tweede van links), aan 'n groep plaaslike krieketafrigters gedemonstreer. Dié boulmasjien is die enigste van sy soort in Suid-Afrika en kan van draaiballe tot snelaflewerings afstuur. Afrigters en krieketspelers sal met behulp van dié masjien hul tydsberekening binneshuis kan verfyn.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'