GEORGE-NUUS - Die SWD Krieketraad het tydens 'n glansgeleentheid by die VG International Wilderness Hotel hul uitblinkers vir die 2009/10-seisoen vereer. Die briljante middelkolwer van die SWD-seniorspan, Gerhard Strydom, is as speler van die jaar aangewys is.
Hy was in beide die driedaagse en eendaagse kompetisie van KSA die voorste lopiemaker.
In die driedaagse reeks het hy slegs die 29e speler in die geskiedenis van eerste-rangse krieket in Suid-Afrika geword om 'n duisend lopies in 'n seisoen te moker. Hy het 1 032 lopies behaal teen 'n gemiddeld van 41.28 en spog met twee honderdtalle en agt vyftigtalle.
In die eendaagse reeks het hy 422 lopies aangeteken en in die proses Mark Boucher se Suid-Afrikaanse rekord vir die vinnigste 50-tal in eendagkrieket in Suid-Afrika verpletter toe hy sy 50-tal teen Noordelikes van slegs 18 balle gemoker het.
Pieter Stuurman, van Union Stars, is die Premierliga speler van die seisoen, Francois Bonthuys van Knysna Kavaliers was die voorste speler in die Promosieliga terwyl terwyl Eldridge Booysen van Union Stars die toekenning in die Reserweliga ontvang het.
Riaan Botha, wat die SA Jongspan gehaal het, was die hoërskole speler van die seisoen, Chris Marrow die laerskole speler en Josua Michaels die speler van die seisoen in die kategorie vir verstandelik gestremde spelers.
Rebecca Grundy, wat SWD se beste speler was in die KSA-vroueliga, het die toekenning van vrouespeler van die jaar ontvang.
Leslie Abrahams is aangewys as die tel-linghouer van die seisoen, James Phillips as beste skeidsregter en Julius Japtha as baan-opsigter van die seisoen.
Die Simon Swigelaar-wisseltrofee vir uitsonderlike prestasie het vanjaar aan die klub Union Stars gegaan wat beide die Premier- en Pro 20-liga gewen en ook sewe spelers vir die seniorspan opgelewer het.
Die SWD-seniorspan, wat uitstekend in die KSA driedaagse reeks gevaar het, het die toekenning vir die beste provinsiale verteenwoordigende span ontvang terwyl wyle Raymond Henry Koert, wat onlangs oorlede is, vereer is vir sy bydrae tot die Ramblers Krieketklub.
Verskeie merietetoekennings is ook gemaak waaronder aan Sammy-Joe Avontuur wat teen die besoekende Engelse toerspan gespeel het en Bernadine Bezuidenhout wat die SA skole-meisiespan gehaal het.
Die president van Krieket Suid-Afrika, dr. Mtutzeli Nyoka, sowel as die onderburgemeester van die Eden Distriksmunisipaliteit, adv. Fareed Stemment, het die geleentheid bygewoon.
Sien nog foto's hier: http://www.georgeherald.com/gallery.aspx?gpid=98&gid=6