Die eerste twee rondes van die toernooi is gekenmerk deur sprankelende krieket wat vyf 50-talle en 'n seldsame boul-driekuns opgelewer het. Die groot verrassing, natuur-lik, is dat die vooraf-gunsteling, die Eden Kings van Rual de Reuck, onverwags deur die King X1 van Duncan Stoffels uitgeskakel is. Selfs 'n vegtersbeurt van De Reuck kon nie sy span van 'n nederlaag red nie.
Die King X1 het met een paaltjie gewen. Die Royal Challengers het die Spartan Kings in 'n naelbytstryd met 11 lopies geklop. Die Challengers het eerste gekolf en 146 lopies in hul 20 boulbeute opgestapel. Liberto Carelse (57) en Gilroy Saaiman (44) het die beste met die kolf gevaar. Maar die hoogtepunt van die tweestryd was die skitterende driekuns wat die 16-jarige Bradley de Villiers vir die Challengers met die bal behaal het. Hy het met 'n puik ontleding van 4/12 geëindig.
Vir die Spartans het Jade Stoffels 40 puik lopies behaal.
Saterdag pak die Eden Super Kings en die King X1 mekaar om 09:30 om die derde en vierde plekke met die eindstryd om 13:00 tussen die Royal Challengers en die Spartan Kings. Die toernooi word afgesluit met die prysuitdeling en 'n dansdinee by Klub Rush om 20:00. Toegang is R20 per persoon.
Lyndon Volkwyn stuur nog een van sy kartetse af. Hy het met vuur geboul en 3/7 ingeoes.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'