GEORGE NUUS - 'n Digte laag mis het die perfekte omstandighede geskep vir vanjaar se Bergplaas Challenge by die Libertas-gasteplaas in Hoekwil.
Dit was die vyfde keer wat hierdie gewilde geleentheid plaasgevind het. Sowat 200 drawwers en bergfietsatlete het deelgeneem.
Die byeenkoms vorm deel van die Eden XCM-liga, en deelnemers kon kies tussen 5 km of 10 km-bergwedloop en 15 km, 30 km, 40 km of 70 km-bergfietswedrenne.
Skandeer vir volledige uitslae.
Wenners
In die 70 km-manswedren het Wayne van der Walt oorheers met 'n uitstekende tyd van 2:42:44. John Nell het tweede geëindig in 3:07:15, gevolg deur Jacques Venter in 3:08:53.
By die vroue het Steph Wohlters haar mededingers agtergelaat met 'n wentyd van 3:24:44. Jackie Davidoff het tweede gekom in 3:34:34, en Franci Joubert het die derde plek behaal in 3:55:14.
Die 40 km-mansresies was 'n naelbytstryd. Lian Otto het eerste oor die eindstreep gekom in 1:33:05, slegs 13 sekondes voor Corban van Zyl Smit (1:33:18). Marwayne Kriga het die derde plek ingeneem met 'n tyd van 1:43:47.
In die 40 km-vroueresies het Anje van Niekerk sterk vertoon en eerste geëindig in 1:58:29.
Ella Barnard (2:06:07) en Aimee-Lee Lotter (2:06:18) het die tweede en derde plekke onderskeidelik behaal.
Die gees onder deelnemers en ondersteuners het vanjaar se Bergplaas Challenge iets besonders gemaak en net weer bevestig waarom dié gebeurtenis 'n gunsteling op die MTB-kalender bly.
Vir inskrywings vir volgende jaar se byeenkoms, hou asseblief www.chaingangevents.co.za dop.
Tineke Speirs in rooi en Marelise Pretorius.
Steph Wohlters (voor) en Paul Odendaal.
Mandy Arora draf lag-lag.‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’