GEORGE NUUS - Die gewilde jaarlikse Outeniqua-marathon word op Saterdag 25 April weer deur die Outeniqua Harriers-multisportklub in samewerking met die George-munisipaliteit en Halfway Toyota George aangebied.
Die wedloop, wat reeds vir meer as 40 jaar deur Outeniqua Harriers aangebied word, ondergaan vanjaar 'n roete-aanpassing weens konstruksie op die 2 km-gedeelte op die Sewepassepad.
Hoewel die wedloop tradisioneel in George begin en in Wildernis eindig, sal die eindpunt vanjaar by die Nelson Mandela-Universiteit (NMU) se rugbyveld wees.
Begin- en eindpunte van wedlope
Die marathon (42,1 km) begin om 07:00 by Cornerstone in Blanco. Atlete hardloop aanvanklik deur Blanco voordat hulle 'n gedeelte van die Montagupas-roete volg.
Van daar keer hulle terug na die oostelike kant van die dorp, waar hulle langs en om die Tuinroetedam hardloop voordat hulle by NMU eindig.
Die 21,1 km, 10 km en 5 km begin en eindig almal by NMU Saasveld. Die 21,1 km spring om 08:00 weg waarna die 10 km en 5 km volg.
Busvervoer sal voorsien word vir atlete wat by die Wilderness Hotel bly.
Die bus vertrek om 05:30 na Cornerstone en weer om 06:50
na NMU vir die ander atlete.
Vir navrae, WhatsApp Esmé by 084 499 7753.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’