SKOOL NUUS - Al hoe meer kleuters en skool-gaande kinders daag soggens by die skool op sonder voldoende kos, en vir baie is die maaltyd wat hulle by die skool ontvang die enigste voedsame ete van die dag.
Solidariteit Helpende Hand sê in 'n onlangse mediaverklaring dat stygende lewenskoste, werkloosheid en die druk op huishoudelike begrotings dit vir baie gesinne al moeiliker maak om genoeg kos op die tafel te sit.
"Honger raak veel meer as net 'n kind se maag. Dit beïnvloed hul vermoë om te konsentreer, te leer en ten volle aan die skooldag deel te neem. Wanneer kinders nie die nodige voeding ontvang nie, het dit 'n direkte impak op hul ontwikkeling, selfvertroue en uiteindelik hul toekoms," sê Marilize de Vaal, administratiewe beampte vir gemeenskapsontwikkeling in die Wes-Kaap.
Volgens De Vaal is behoorlike voeding gedurende die eerste lewensjare van kardinale belang. "Wanneer kinders gereeld honger ervaar, word hul kanse om hul volle potensiaal te bereik ernstig benadeel."
Helpende Hand werk saam met gemeenskappe, skole en ondersteuners om voedselonsekerheid onder kinders te verlig, maar sê die behoefte neem steeds toe namate meer gesinne om hulp aansoek doen.
Die organisasie doen 'n beroep op individue, besighede en organisasies om by hul voedingsprojekte betrokke te raak.
"Selfs 'n klein bydrae kan die verskil beteken tussen 'n leë kosblik en 'n voedsame maaltyd," sê De Vaal.
Georgiete wat meer wil weet of 'n bydrae wil maak, kan 'n e-pos stuur na [email protected].
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’