GEORGE NUUS - Laerskool Herold, een van die oudste plattelandse skole in die George-distrik, vier vanjaar sy 120ste bestaansjaar. Die skool, wat in 1905 gestig is, dien steeds as 'n belangrike spilpunt in die klein Herold-gemeenskap en bied vandag onderrig aan leerders van gr. R tot gr. 7.
Oor die jare heen het die skool bekend geword vir sy unieke plattelandse karakter en sterk gemeenskapsgees.
Waar ander skole dalk met groot getalle spog, is dit juis die kleinskaalse gesinsatmosfeer van Laerskool Herold wat dit besonders maak. Hier kan kinders steeds net kinders wees - 'n lewenswyse wat al vir meer as 'n eeu gekoester word.
Soos in die verlede, speel die breër gemeenskap steeds 'n groot rol in die instandhouding en ondersteuning van die skool.
Fondswerwingsgeleenthede en projekte dra by om seker te maak dat die skool sy deure oop kan hou en kwaliteit onderrig aan die plaaslike kinders bied.
Die skool se 120ste mylpaal word vanjaar op verskeie maniere gevier, onder andere met 'n spesiale skuurdans op Saterdag 6 September.
Die dans vind by die 4 Brothers Aartappelstoor plaas, en begin om 18:00. Kaartjies beloop R175 per persoon en sluit 'n voorgereg en ligte ete in.
Daar sal 'n kontantkroeg wees en koffie en iets soets sal ook te koop aangebied word. DJ Morné-Meister sorg vir die musiek.
Kaartjies is beskikbaar by Laerskool Herold se onderwysers. Vir meer inligting, skakel Bianca by 071 422 4899.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’