SKOOL NUUS - Kretzenshoop Primêr het met ingang 1 Julie 'n nuwe hoof, Chris Pyler, verwelkom. Hy bring meer as 36 jaar se ondervinding in die onderwys na Kretzenshoop.
Pyler het in 1990 by Formosa Primêr in Plettenbergbaai begin waar hy vir vier jaar was. Daarna volg 'n diensperiode van 27 jaar by St. Mary's Primêr in George voordat hy van middel 2022 tot einde Junie vanjaar eers as adjunkhoof, en later as hoof van Rheenendal Primêr gewerk het.
Hy sê dis vir hom 'n eer en "'n uitdagende roeping" om leiding te neem by Kretzenshoop, 'n skool met 'n geskiedenis van meer as 120 jaar. "Dit is nie aldag dat 'n mens die leisels oorneem by 'n instansie wat al meer as 'n eeu lank as 'n baken van hoop in die gemeenskap staan nie."
Hy wil hierdie "kosbare nalatenskap" bewaar en voortbou op die sterk grondslag van die verlede. Volgens hom gaan onderwys oor meer as boeke en eksamens. Hy sê waardes soos respek, integriteit en harde werk asook onaf-hanklike denke moet ook aan leerders oorgedra word.
Dis sy visie om 'n veilige en moderne leeromgewing te skep waar elke kind hul volle potensiaal kan bereik. Die skool se leuse, 'Styg uit', moet "die polsslag van ons hele skoolgemeenskap word".
Uitdagings soos sosio-ekonomiese druk, infrastruktuur en groter ouerbetrokkenheid verg aandag, maar hy glo vas met die samewerking van die personeel, beheerraad en gemeenskap is daar 'n blink toekoms vir Kretzenshoop.
Pyler sê sy vrou, Nolene, is sy steunpilaar. Die egpaar het twee kinders wat albei getroud is: die bekende radiopersoonlikheid op RSG, Sue Pyler-Slabbert, en Bryan, 'n entrepreneur. Hulle het ook 'n 18 maande oue kleindogter op wie hy baie trots is.
In sy vrye tyd geniet Pyler dit om gehaltetyd saam met familie deur te bring, "die land plat te reis, 'n goeie boek te lees, fiets te ry, of die natuur in te vaar vir vars lug en perspektief".
Hy is ook baie betrokke by die kerk.
"Ek beskou my geestelike basis as die fondament waarop ek my hele lewensuitkyk bou."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’